On Now
Weekends 20:00 - 23:59
Saturday Nights OFM
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Central SA

Optrede geëis weens ondrinkbare water op Vrystaatse dorp

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 08:27 Sat, 12 Apr 2025

Optrede geëis weens ondrinkbare water op Vrystaatse dorp | News Article
Foto ter illustrasie: iStock

Dringende ingryping word vereis van ’n Vrystaatse munisipaliteit om die probleme rondom onveilige en besmette drinkwater aan te spreek.

Die DA in Moqhaka gaan aan die munisipale bestuurder skryf oor die onveilige watervoorsiening wat Kroonstad tans raak, het Chris Dalton, DA-raadslid in die Moqhaka plaaslike munisipaliteit, gesê.

“Die water is onbruikbaar vandat dit ’n ontstellende bruin kleur geword het. Hierdie verkleuring het vir 'n paar weke voortgeduur, met baie inwoners bekommerd oor die potensiële gesondheidsrisiko’s verbonde aan die verbruik van die besmette water,” het Dalton gesê.

Ten spyte van pogings deur plaaslike owerhede om die kwessie aan te spreek, bly die bruin kraanwater groot bekommernis vir die gemeenskap.

Onmiddellike, beslissende optrede geëis

Die DA, saam met die inwoners van Moqhaka, eis onmiddellike en beslissende optrede van die plaaslike regering en waterowerhede om die krisis op te los. Ons doen spesifiek ’n beroep op:

  • ’n Deeglike ondersoek na die oorsaak van die waterverkleuring.
  • Dringende en doeltreffende maatreëls om die probleem op te los en te verseker dat die watertoevoer veilig is vir verbruik.
  • Deursigtige en gereelde kommunikasie van die owerhede om inwoners op hoogte te hou van die vordering van regstellende aksies.

Inwoners raak al hoe meer gefrustreerd nadat hulle herhaaldelik meegedeel is dat die water veilig is om te drink wanneer dit duidelik nie is nie. “Dit is skrikwekkend wanneer ’n mens die potensiële gesondheidsrisiko’s oorweeg, veral vir kinders wat besonder kwesbaar is.”

Toegang tot skoon water is ’n basiese mensereg en die mense van Kroonstad verdien niks minder nie as veilige en betroubare watervoorsiening.

Nog ’n munisipaliteit onder skoot

In ’n afsonderlike saak is ’n munisipaliteit in die Noord-Kaap ook onder die vergrootglas weens ’n voortdurende rioolkrisis.

Die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley is deur die hooggeregshof beveel om ’n omvattende vorderingsverslag in te dien waarin hul planne uiteengesit word om die voortslepende rioolbesoedeling by Kamfersdam op te los. 

Die munisipaliteit is ’n streng sperdatum van 20 Mei gegee om aan die hof se uitspraak gehoor te gee.

Dr. Delmaine Christians, 'n DA-parlementslid, het die stadige pas van die munisipaliteit se reaksie op die krisis sterk gekritiseer en gesê dat dit skandelik is dat die saak nie met groter dringendheid aangespreek word nie.

Sy het beklemtoon dat die munisipaliteit se versuim om op te tree die situasie in ’n omgewingskrisis laat verval het. As deel van die hofbevel doen die DA nou ’n beroep op Bentley Vass, LUR vir samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionele sake in die Noord-Kaap, om toesig te hou oor die munisipaliteit se nakoming van die uitspraak.

“Die verslag wat ingedien moet word, moet ’n gedetailleerde begroting insluit, ’n duidelike tydlyn vir die toewysing van fondse, en die munisipaliteit se vordering om die rioolafvoer in Kamfersdam te stop. Daarbenewens word daar van die munisipaliteit verwag om opgedateerde waterontledingsresultate van die geaffekteerde gebiede te verskaf,” het Christians gesê.

OFM Nuus cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.