On Now
Weekends 20:00 - 23:59
Saturday Nights OFM
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Central SA

Polisievoertuig bots teen ouetehuis se muur in Noordwes

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:11 Sat, 12 Apr 2025

Polisievoertuig bots teen ouetehuis se muur in Noordwes | News Article
Die muur waarteen die voertuig gebots het. Foto verskaf

’n Muur wat deur ’n polisievoertuig by ’n ouetehuis in Noordwes beskadig is, sal meer as R50 000 kos om te herstel.

Inwoners van Huis Delarey in Delareyville het Maandagoggend (7/4) omstreeks 06:38 wakker geskrik toe ’n polisievoertuig teen die ouetehuis se muur vasgejaag het, sê ’n personeellid wat anoniem met OFM Nuus gepraat het.

"Die beeldmateriaal wys hoe die polisievoertuig uitswaai voordat dit teen die muur vasgery het. Die bestuurder ry dan dadelik agteruit. ’n Polisiebeampte in uniform verlaat die voertuig met ’n selfoon, hardloop ’n entjie weg en keer dan terug na die voertuig.

Eis reeds by versekeringsmaatskappy ingedien

Sy sê dat ’n eis reeds by hul versekeringsmaatskappy ingedien is, wat aangedui het dat die herstelkoste na raming tussen R60 000 en R70 000 sal wees.

“Die hele muur moet vervang word. Intussen gaan ons bykomende uitgawes aan vir sekuriteitswagte by die beskadigde gedeelte, aangesien die oop area ’n aansienlike veiligheidsrisiko inhou.”

Kol. Adéle Myburgh, Noordwes-polisiewoordvoerder, het bevestig ’n saak van roekelose en/of nalatige bestuur word ondersoek. “Ons is ook besig met ’n interne ondersoek.”

Volgens Myburgh word polisiebeamptes opgelei om nie skuld te erken of om verskoning te vra wanneer hulle aan diens is en in ’n ongeluk betrokke is nie, aangesien dit geïnterpreteer kan word as skulderkenning, wat kan lei tot die verbeuring van staatsregsbeskerming.

Polisiebeamptes opgelei om nie skuld te erken

“Beamptes wat betrokke is by voorvalle terwyl hulle aan diens is, word deur die staat gedek en deur ons regsafdeling verteenwoordig. Selfs as hulle wil, mag hulle nie met die ander party in gesprek tree of om verskoning vra soos in ’n private situasie nie,” het sy gesê.

Die ouetehuis akkommodeer tans 110 bejaarde inwoners – 22 in die verswaktesorgeenheid en 78 in die aftree-afdeling. Soos baie soortgelyke instellings maak hulle baie staat op openbare ondersteuning, veral na aanleiding van subsidiebesnoeiings van die staat.

“Enigiemand wat op enige manier wil bydra of bystaan, is welkom om ons te kontak.”

OFM Nuus cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.