Central SA
Kommer neem toe oor bestuur van Bloemhofdam─── CHARNÉ VAN DER MERWE 08:23 Sun, 13 Apr 2025

Daar is toenemende kommer oor die bestuur van die Bloemhofdam in Noordwes, met waarskuwings dat voortgesette wanbestuur ’n “mensgemaakte krisis” tot gevolg kan hê.
Die voortgesette gebruik van die Bloemhofdam as ’n opgaardam, eerder as ’n vloedbeheerdam, is onaanvaarbaar. Verskeie stroomaf gemeenskappe het onlangs skade gely toe sluise oopgemaak is, sê Tarien Cooks, rampbestuurspesialis by AfriForum.
“Wanneer die dam se kapasiteit kritieke vlakke bereik, word sluise noodgedwonge oopgemaak wat lei tot sogenaamde mensgemaakte vloede,” sê Cooks.
Pemmy Majodina, die minister van Water en Sanitasie, het Vrydag (11/4) die Bloemhofdam besoek om stygende watervlakke en die gepaardgaande vloedrisiko’s te bepaal. Sommige gebiede stroomaf het reeds ernstige skade weens oorstromings opgedoen.
Majodina het beklemtoon dat beheerde vrystellings nodig is weens “vinnig stygende watervlakke, volgehoue hoë invloei, en om te verseker dat die dam veilig bestuur word”.
Die Bloemhofdam was vandeesweek 114,31% vol en water is in ’n stadium teen 3000 m³/s vrygelaat. Foto: Facebook/Suburban Control Centre
“Die hoë watervlakke in die Bloemhofdam word deels veroorsaak deur die 813,380 m³/s invloei van die Vaaldam, wat onlangs sy sluise oopgemaak het om sy eie hoë watervlakke te bestuur,” sê Majodina.
Cooks waarsku egter dat hierdie vloede wydverspreide vernietiging van infrastruktuur veroorsaak en lewens in gevaar stel. Sy skryf dit toe aan swak beplanning en die afwesigheid van proaktiewe bestuur. “Hierdie benadering is nie net onvolhoubaar nie, maar ook gevaarlik en heeltemal onaanvaarbaar,” voeg sy by.
AfriForum hou die departement van water en sanitasie grootliks verantwoordelik vir die krisis.
‘Vooruitdenkende benadering sal lewensverlies verminder, skade voorkom’
Volgens die organisasie het die departement versuim om in die bou van voldoende opgaardamme te belê, wat noodgedwonge daartoe gely het dat bestaande infrastruktuur soos die Bloemhofdam gebruik word vir doeleindes waarvoor dit nie bedoel was nie.
Cooks wys daarop dat internasionale rampbestuurtendense van reaktiewe na proaktiewe benaderings verskuif het. Sy verwys na globale voorbeelde om te demonstreer wat met tydige, strategiese beplanning bereik kan word.
“Een so ’n voorbeeld is orkaan Sandy in 2012 in New York, waar proaktiewe maatreëls gehelp het om die skade te beperk, lewensverlies minimaal gehou het en vinnige herstel van infrastruktuur moontlik gemaak het,” verduidelik sy.
Vloedskade word stroomaf ervaar in die omgewing van Christiana en die Bloemhofdam. Foto: Facebook/Suburban Control Centre
“Hierdie vooruitdenkende benadering moet deur alle staatsdepartemente, insluitend die departement van water en sanitasie, aanvaar word om lewensverlies te verminder en finansiële en infrastruktuurskade te voorkom.”
AfriForum hou vol dat ’n soortgelyke strategie in Suid-Afrika die impak van beide natuurrampe en administratiewe nalatigheid dramaties kan verminder.
Cooks beklemtoon dat die Bloemhofdam oorspronklik as ’n vloedbeheerdam gebou is, wat bedoel is om stroomaf gemeenskappe te beskerm wanneer die Vaaldam-sluise oopgemaak word.
Die sluise van die Bloemhofdam. Foto: Facebook/Suburban Control Centre
“As die Bloemhofdam behoorlik bestuur word in ooreenstemming met sy beoogde vloedbeheerfunksie, kan ons toekomstige skade voorkom of aansienlik verminder,” dring sy aan.
AfriForum beweer egter die rampbestuurdepartement in die Noordwes-provinsie het nie die kapasiteit om geaffekteerde gemeenskappe voldoende te ondersteun nie. “Die Noordwes-rampbestuurdepartement het eenvoudig nie die befondsing wat nodig is om diegene wat deur hierdie mensgemaakte vloede geraak word, by te staan nie,” sê Cooks.
???? South Africa: Flooding of the Vaal River around Bloemhof, Vaal Dam water level is at 115%, and water is being released through five sluices. It is causing flooding downstream around the Christiana and Bloemhof Dam.
— Brian Basson (@BassonBrain) April 12, 2025
South Africa's largest dam, The Gariep, is overflowing its… pic.twitter.com/gNaW6Tulcx
In reaksie op hierdie leemte het AfriForum die inisiatief geneem deur ’n noodfonds van stapel te stuur om rampslagoffers te ondersteun.
Cooks moedig die publiek aan om by te dra: “Mense kan enige tyd aan die noodfonds skenk om gemeenskappe tydens rampe te help.”
Majodina verseker dat die regering alles in sy vermoë doen om diegene wat geraak word by te staan. “Ons werk nou saam met plaaslike owerhede om die situasie te bestuur en die gemeenskappe te ondersteun,” sê sy.
OFM Nuus cg