Central SA
Noord-Kapenaar swaar gevonnis vir infrastruktuur-misdaad─── CHARNÉ VAN DER MERWE 08:57 Sun, 13 Apr 2025

Misdaad wat die stabiliteit van noodsaaklike infrastruktuur bedreig, sal ’n prioriteit vir die polisie bly.
Só sê lt.genl. Koliswa Otola, Noord-Kaapse polisiekommissaris, nadat ’n man swaar tronkstraf gekry het vir diefstal by selfoontorings.
Die 39-jarige, wat skuld beken het op verskeie aanklagte, is Donderdag (10/45) deur die streekhof in Kimberley tot altesaam 47 jaar tronkstraf gevonnis, sê sers. Merapelo Pilane, polisiewoordvoerder.
‘Ontwrig kommunikasie van plaaslike gemeenskappe’
“Shepherd Ushe is skuldig bevind op drie aanklagte van diefstal van batterye wat by selfoonnetwerktorings in Delportshoop en Daniëlskuil gesteel is. Hierdie misdaad het nie net aansienlike skade aan kritieke infrastruktuur aangerig nie, maar het ook kommunikasie vir plaaslike gemeenskappe ontwrig.”
Talle klagtes
Hy sê die voorvalle het tussen April 2018 en Junie 2019 plaasgevind.
“Ons het talle klagtes ontvang oor selfoontorings wat geteiken word met noodsaaklike toerusting soos batterye wat gesteel word. Hierdie misdaad hou ernstige gevolge in vir gemeenskappe wat op kommunikasie-infrastruktuur staatmaak, veral in noodgevalle,” sê Pilane.
Die ondersoek is uitgevoer deur die Noord-Kaapse georganiseerde misdaadeenheid in die Noord-Kaap, onder leiding van brig. Johan Myburgh en sers. Orapeleng Mosala.
Volgens Pilane het hul deeglike ondersoek tot Ushe se arrestasie in Gauteng gelei.
Twee jaar weens immigrasiewet
“Die span se meedoënlose poging en toewyding het gelei tot die arrestasie en suksesvolle vervolging van die oortreder. Ons is baie tevrede met die uitslag.
Ná sy inhegtenisneming het Ushe in aanhouding gebly en verskeie hofverskynings voor sy vonnisoplegging gehad. Pilane sê hy is 45 jaar tronkstraf opgelê vir die beskadiging van noodsaaklike infrastruktuur, met ’n bykomende twee jaar vir die oortreding van immigrasiewette, aangesien hy onwettig in Suid-Afrika is.
Sers. Orapeleng Mosala (links) en brig. (afgetree) Johan Myburgh. Foto: SAPD
Otola het die ondersoekspan bedank vir hul toewyding. “Ons is trots op die uitstaande werk deur brig. Myburgh en sers. Mosala. Hierdie suksesvolle vervolging demonstreer ons vaste verbintenis tot die beveiliging van infrastruktuur wat noodsaaklik is vir openbare veiligheid en kommunikasie.”
Otola het die publiek aangemoedig om verdagte aktiwiteite of misdaad aan te meld deur die MySAPS-app te gebruik of Stop Misdaad by 08600 10111 te skakel.
OFM Nuus cg