Central SA
Geliefde Upingtonner se lewe Saterdag gevier─── CHARNÉ VAN DER MERWE 13:02 Wed, 16 Apr 2025

Die bedryfsbestuurder van ’n winkelsentrum op Upington word Saterdag (19/4) begrawe.
Arno Swart is die afgelope Saterdag aan ’n hartaanval oorlede.
Volgens een van Swart se vriende het hy reeds Vrydag by die werk sleg gevoel, waarna die dokter aanvanklik gedink het dis ‘n mantelvliesbreuk. Swart is glo Saterdag net ná 11:00 oorlede.
“My hart is nie reg om jou te groet nie,” skryf Erika Boshoff, sy verloofde, op Facebook. “Hoe sê mens baai vir iemand saam met wie jy nog ’n hele lewe wou bou? Al die avonture wat nog op ons gewag het. En al die onbeplande road trips.”
’n Vriend, Marius Steyn, het Dinsdag geskryf hy kon nie langer uitstel om iets oor Swart se heengaan te skryf nie. “Eerstens wil ek dankie sê, en ek dink ek doen dit namens bitter klomp mense, … vir die Liewe Vader dat Hy jou vir ons geleen het as ’n vriend, seun, broer, pappa en man. Daar was net een van jou!”
Steyn beskryf Swart as iemand wat met almal oor die weg gekom het, wat geen “issues” gehad nie. Boshoff sê hy “het elke dag gelewe vir die oomblik en het nooit ’n geleentheid gemis nie! Maak nie saak wat dit was nie.
“Orals waar jy gekom het, het jy mense se lewe geraak. Jy het mense gelok na jou toe met jou harde en uitspattige lag. Jy was ’n regte mens-mens en oral het almal van jou gehou.”
Arno Swart en Erika Boshoff. Foto Facebook
Boshoff noem al hul dogtertjie, Anlia, (2) se eerstes wat Swart nou gaan misloop: Swart het daarvan gedroom om vir hul eersteling haar eerste bok te skiet, haar eerste visstok present te gee, haar eerste atletiek by te woon, haar eerste konsert, haar eerste grootskooldag.
Swart, ’n oudleerder van die Hoërskool Wolseley in die Boland, word oorleef deur sy ouers, Andries en Annelize, en sy jonger broer, Jehan. Sy lewensviering word vir Saterdag om 10:00 in die NG Kerk Upington-Noord beplan.