Central SA
Van ingeperkte sirkusleeus in Frankryk tot vrye savanna in die Oos-Vrystaat─── 13:40 Wed, 16 Apr 2025

Ná jare van ingeperkte gevangenskap as sirkusleeus snuif twee groot katte nou die vars lug en vryheid van die natuur onder die helder Afrikason.
Die nuwelingleeus by die Lionsrock Big Cat Sanctuary, sowat 18 km buite Bethlehem, Tomoyo en Illiana, het op 10 April veilig by Lionsrock aangekom ná ’n lang vlug.
Die twee leeuwyfies se nuwe, permanente tuiste is in Suid-Afrika ná ’n swaar sirkuslewe in die Franse hoofstad, Parys. Tomoyo en Illiana is nou deel van die golwende grasvelde, bosse en bome soos net die Oos-Vrystaat kan bied met genoeg ruimte om gelukkig te leef.
Die twee is in ’n sirkus gebore. Tot en met die Covid-19-pandemie is van hulle verwag om eindeloos in ’n ring toertjies uit voer om mense te vermaak. Hulle moes boonop in ’n winterkwartier aangehou word met geen geleentheid om te oefen nie; daarom is albei die leeuwyfies oorgewig.
Gelukkig vir Tomoyo, Illiana en ander sirkusleeus het Frankryk wetgewing ingestel wat die vertoning van wilde diere in sirkusse vanaf 2028 verbied. So het die twee leeus en hul makker, Pepsi, se sirkusloopbaan geëindig.
Die drie is tydelik na die dierehawe Tonga Terre d’Accueil: Refuge pour animaux sauvages in Suidoos-Frankryk geneem deur die organisasie Free Life en die Beligiese reddingsentrum vir wilde diere Belgian Natuurhulpcentrum. Ongelukkig is Pepsi dood aan akute nierversaking – ’n kondisie wat dikwels by leeus in aanhouding aangetref word.
Aankoms van dames Tomoyo en Illiana. Foto verskaf
Lionsrock is in 2006 deur Four Paws SA oorgeneem om as ’n grootkattoevlugsoord te ontwikkel. Vandag het Lionsrock ver oor ’n honderd groot katte – leeus, luiperds en tiere – en het hierdie diere 16 lande ’n lewe wilde katte in groot, ruim kampe.
Baie is gedoen om mishandelde en getraumatiseerde leeus hier te hervestig in sirkelvormige kampe met habitat en skuilings wat geskik is vir hul spesies. Alle kampe is etlike hektaar groot.
Lionsrock is ook die tuiste van ’n verskeidenheid wildsoorte soos die wildebees, blesbok, Burchell se sebra, duiker, eland, rooibok, lechwe, bergrietbok, en ander. ’n Verskeidenheid voëlspesies het ook ’n heenkome op die plaas gevind.
Lionsrock Big Cat Sanctuary se ander leeus. Foto verskaf
Volgens Deirdré Daniels, kommunikasiebetuurder van Four Paws SA, gaan dit goed met Tomoyo en Illiana by Lionsrock. Hulle het al van hulle oortollige gewig ontslae geraak en bou nou spiere met hul groter beweegruimte in die natuur.
Hulle het hopelik al begin vergeet dat hulle van Parys na die Oliver Tambo-lughawe gevlieg het en van die gehokte sirkuslewe. Op Lionsrock word hulle met fyn oë en liefde dopgehou. Die twee dames floreer in die beter omstandighede.
Daniels sê: “Die aankoms van Tomoyo en Illiana by Lionsrock is die begin van hulle rehabilitasie. Ons het ’n ervare span wat na hulle spesifieke behoeftes kyk.
“Deel van die rehabilitasie is klimstrukture en natuurlike plantegroei. Ons sal ook aktiwiteite voorsien om hulle fisiese aktiwiteite te bevorder en hulle sielkundig help aanpas.”:
Verrykingsaktiwiteite sal aan hierdie twee leeus verskaf word om hulle fisieke aktiwiteit en geestelike stimulasie aan te moedig, sê Hildegard Pirker, bestuurder van Lionsrock. “Ons sal geleidelik ’n akklimateringsprogram in werking stel om hulle te help om by hulle nuwe omgewing aan te pas en hul ontwikkeling noukeurig monitor.
“Wat vir ons baie bevredigend is, is om reeds hulle transformasie te sien terwyl hulle hul natuurlike instinkte en selfvertroue by Lionsrock ontdek.”
Deel van die rehabilitasie is klimstrukture en natuurlike plantegroei. Foto verskaf
Een van die dae, indien nie reeds nie, sal Romoyo en Illiana saam met meer as honderd ander konings van die Vrystaatse hoëveld (ook tiere en luiperds) daar op Lionsrock begin koorbrul, afgewissel met die gelag en geskree van Phiri, ’n hiëna, wat ook ’n Lionsrocker is.
Terwyl Phiri van haar laat hoor in ’n stem teen sowat 60 dB, sal die leeukoor van hulle laat hoor in 117 dB. Saam is hulle ’n buitengewone simfonie om oor huis toe te skryf. Van trauma tot geluk.