On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Meer as 400 Vrystaatse polisievoertuie is onklaar

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:56 Thu, 10 Apr 2025

Meer as 400 Vrystaatse polisievoertuie is onklaar | News Article
Foto: OFM Nuus

Byna 450 polisievoertuie wat aktief gebruik behoort te word om misdaad in die Vrystaat te bekamp is tans buite werking weens probleme soos die oponthoud met herstelwerk en inspeksies.

Dié syfer is onthul in ’n antwoord deur Jabu Mbalula, LUR vir gemeenskapsveiligheid, paaie en vervoer, op ’n vraag van die VF Plus in die provinsiale wetgewer.

“Hierdie situasie hou ernstige implikasies vir veral landelike veiligheid in. Die getal is uiters kommerwekkend, veral aangesien hierdie voertuie veral in landelike gebiede aangewend kan word om die veiligheid van inwoners te verseker,” sê Armand Cloete, VF Plus-wetgewerlid.

Nodig vir landelike veiligheidstrategie

“Die georganiseerde landbou in die provinsie stem saam dat meer as honderd voertuie nodig is om die landelike veiligheidstrategie doeltreffend in die Vrystaat te implementeer.”

Hy sê hierdie strategie behels onder meer om te verseker dat elke plattelandse polisiekantoor minstens een voertuig het wat spesifiek aan landelike veiligheid toegewy is.

Aankoop van nuwe voertuie in Vrystaat is klap in die gesig | News Article

Armand Cloete. Foto: X

Cloete sê die party is egter ontsteld oor die LUR se erkenning in sy reaksie dat nie ’n enkele polisiekantoor in die provinsie ’n voertuig het wat uitsluitlik aan landelike veiligheid gewy is nie. “Veediefstal en die algehele veiligheid van ons boere en plaaswerkers is groot bedreigings vir die landbousektor.

“Elke beskikbare hulpbron is noodsaaklik om misdaad op die platteland te bekamp, maar dit blyk dat hierdie hulpbronne nie optimaal bestuur word nie.”

Die tekort aan operasionele voertuie dra waarskynlik by tot die groeiende frustrasie onder plattelanders. “Daar is heeltemal te veel gevalle in landelike gebiede waar die polisie óf te lank neem om ’n misdaadtoneel te bereik óf in sommige gevalle heeltemal versuim om op te daag, moontlik weens ’n gebrek aan voertuie.”

VF Plus wil saak verder te voer

Die VF Plus is vasbeslote om hierdie saak verder te voer, sê Cloete. “Ons sal in die betrokke portefeuljekomitee in die wetgewer daarop aandring dat die departement ’n volledige verduideliking verskaf oor hoekom so baie voertuie buite diens is en, nog belangriker, hoe hierdie onaanvaarbare situasie aangespreek sal word.

“Ons sal ook ’n beroep op die minister van polisie, Senzo Mchunu, doen om die saak te ondersoek en op te tree. Die Vrystaat kan nie bekostig dat selfs een polisievoertuig of -beampte ondoeltreffend is nie.”

OFM Nuus cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.