On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Noord-Kaapse polisie vra hulp om oorledene uit te ken

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:26 Thu, 10 Apr 2025

Noord-Kaapse polisie vra hulp om oorledene uit te ken | News Article
Foto ter illustrasie: iStock

Jan Kempdorp se polisie soek dringend hulp om die liggaam van ’n onbekende oorledene te identifiseer.

Die ontbinde liggaam is op 20 Maart deur ’n verbyganger in die veld naby die weermag se ammunisiedepot op Jan Kempdorp ontdek, sê lt.kol. Sergio Kock, provinsiale polisiewoordvoerder.

“Die liggaam was in ’n gevorderde toestand van ontbinding, en ons kon die individu nie identifiseer ten spyte van ons voortdurende pogings nie.” Volgens Kock het niemand nog ’n vermiste persoon wat moontlik die oorledene kan wees, aangemeld nie.

‘Ongeveer 45 jaar oud en nagenoeg 1,6 m lank’

Hy sê die oorlede is ongeveer 45 jaar oud en nagenoeg 1,6 m lank. Hy het ’n rooi Redbat-T-hemp en blou kortbroek aangehad. “Ons hoop dat lede van die gemeenskap wat inligting oor vermiste persone het of wat hierdie beskrywing herken, na vore sal kom om met die identifisering te help,” sê Kock.

Enigiemand wat kan help met inligting oor die oorledene moet speursers. Raneo Molelekeng by 060 976 9067 nader. Die MySAPS-app kan gebruik word om inligting te deel of bel Stop Misdaad by 08600 10111.

Die ondersoek duur voort.

Geen wagtydperk

Die Noord-Kaapse polisie wil die publiek herinner geen wagtydperk geld om vermiste mense aan te meld nie.

Maak so wanneer iemand vermis word:

  • Verskaf ’n onlangse foto van die vermiste persoon, indien moontlik.
  • Gee ’n volledige beskrywing van die vermiste persoon se laaste woonplek, klere wat hulle gedra het, asook enige inligting wat die ondersoekbeampte kan help.
  • Voltooi en onderteken ’n SAPD 55(A)-vorm. Hierdie vorm beskerm die polisie teen gekskeerdery en vrywaar hulle om die foto en inligting van die vermiste persoon te versprei.
  • Kry die ondersoekbeampte se kontakbesonderhede en stuur enige bykomende inligting wat beskikbaar word direk aan hom/haar.
  • As ’n vermiste gevind word of vrywillig terugkeer, stel die ondersoekbeampte onmiddellik in kennis. ’n SAPD 92-vorm moet voltooi word om die buro vir vermiste persone in kennis te stel, sodat die vermiste persoon se verslag uit die sirkulasiestelsel gehaal kan word.

OFM Nuus mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.