Central SA
Vyf Noordwesters bly in aanhouding ná ontvoering─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:53 Thu, 10 Apr 2025

Vyf verdagtes van Noordwes wat na bewering betrokke was by die ontvoering van ’n man, bly in aanhouding tot hul borgaansoek Maandag (14/4).
’n Man (39) van Wolmaransstad is Sondag met sy gesin herenig nadat hy vir ’n losprys ontvoer en as gyselaar aangehou is, sê kapt. Mpho Manyoba, provinsiale polisiewoordvoerder.
Thabo Molotsi (45), Thabiso Sebobane (45), Mahleke Mohai (42), Michael Vusi Chabangu (44) en Teboho Makgetha (39) het Dinsdag (8/4) in die landdroshof verskyn op verskeie aanklagte.
Volgens Manyoba het die vinnige en gekoördineerde reaksie deur talle nasionale en provinsiale polisie-eenhede gelei tot die inhegtenisneming van die verdagtes.
Ontvoerde man gevind
“Die ontvoering is Vrydagaand by die polisie aangemeld, waarna onderhandelinge met die vermeende ontvoerders onmiddellik begin het. Ons beamptes is vinnig ontplooi en het onvermoeid gewerk om die veiligheid van die slagoffer te verseker.”
Die ondersoek het die polisie na Welkom en Virginia gelei, waar die verdagtes aangekeer en die ontvoerde man gevind is.
“Tydens die inhegtenisneming is beslag gelê op drie selfone – een wat aan die slagoffer behoort – saam met ’n replikavuurwapen. Die slagoffer het geen beserings opgedoen nie en is veilig aan sy familie terugbesorg,” sê Manyoba.
Slagoffer veilig tuis
Die vyf verdagtes sal Maandag in die Wolmaransstadse landdroshof verskyn op aanklagte van ontvoering, afpersing, roof en aanranding met die doel om ernstig te beseer.
Genl.maj. Patrick Asaneng, waarnemende provinsiale kommissaris, het die span geprys wat verantwoordelik is vir die beveiliging van die ontvoerde man. Hy het hul “toewyding, dapperheid en onwrikbare vasberadenheid” geloof. “Hierdie inhegtenisnemings behoort ’n duidelike boodskap aan genadelose misdadigers oor te dra: Die polisie sal hulle meedoënloos agtervolg, maak nie saak waar hulle wegkruip nie,” sê Asaneng.
Hy beklemtoon die polisie het dag en nag gewerk om die verdagtes op te spoor en die slagoffer veilig tuis te bring. “Dit is die vlak van toewyding wat ons aan elke saak van hierdie aard bring.”
OFM Nuus cg