Central SA
Sterrekykers na Riemlandse fees gelok─── 09:35 Thu, 10 Apr 2025

Dis nie net op Sutherland of elders in die Karoo waar ’n mens sterre kan kyk nie.
Die Big Vegkop Star Party, wat van 25 tot 26 April in die Heilbron-distrik gehou word, gaan liefhebbers van die nagtelike hemelruim van heinde en ver na dié Riemlandse dorp lok.
Prof. David Block, internasionaal-bekende spreker oor sterrekunde en emeritus professor van Wits. Foto verskaf
Dit is ’n eiesoortige en sogenaamde Bortle 2-sterrekundeterrein en een van die belangrikste historiese terreine in die Vrystaat.
Vegkop word gereeld deur belangstellendes en gevorderde astrofotograwe besoek vanweë die onbelemmerde naghemel wat die terrein bied. Die Big Vegkop Star Party is ’n projek wat deur ’n paar sterrekykers begin is om sterrekyk vir almal toeganklik te maak en Vegkop as ’n uitstekende sterrekunde-ligging te bevorder.
Die geld wat hiermee ingesamel word, is ten bate van die bewaring van die Vegkop-monument.
Die Vegkop-slagveld. Foto verskaf
Die hoofaanbieder is prof. David Block, wat internasionaal as sterrekundige bekend is en ’n emeritus professor van Wits. Hy is bekend vir praatjies oor sterrekunde sowel as die wetenskap/geloof-tweedeling.
Hy het meer as 40 jaar daaraan gewy om gehore wêreldwyd altyd aan te moedig en te inspireer met sy leuse “Kyk op!” Hy praat uit die hart en deel diepte-lesse uit sy navorsingswêreld.
Die geleentheid is ook vir skoolkinders. Vrydagmiddag se program is toegespits op kinders om hulle oor sterrekunde in te lig. Van die praktiese aktiwiteite is die sterrehorlosie, die sonhorlosie en die sterretelefoon.
Verskeie praatjies gelewer
Hulle sal ook meer te wete kom van teleskoopontwerpe. Vir beginners is daar Vrydagaand praktiese sterrekyk en beginner- teleskopiese bystand.
Saterdag begin met ’n fietswedren van 52 km, ’n draf- en stapsessie van onderskeidelik 10 en 5 km met geldpryse en medaljes op die spel. Die oggend word gewy aan koffie en lekkernye, kosstalletjies, ’n besigtiging van teleskooptoerusting en ’n veteraanmotor-uitstalling van Benoni.
Verskeie praatjies word op Saterdagmiddag gelewer oor astronomie, teleskoopgebruik en basiese astrofotografie.
Kinders besoek die Vegkop-slagveld gereeld. Foto: Dawie Fourie Fotografie
Die aand is sterrekyktyd. Block gaan sterre uitwys en daar word ook na planete, sterregroepe en ander interessanthede in die hemelruim gekyk. Later die aand gaan gekyk word na hoeveel teleskope op een voorwerp in die hemelruim gerig kan word.
Die Vegkop-terrein, sowat 25 km buite Heilbron, is ’n gedenkterrein met ’n bestuursraad wat na alle belange en onderhoud omsien. Hier moes die boere op Sondag 16 Oktober 1863 teen Silkaats van die Matabele-stam weerstand bied.
Silkaats het sy hele mag van sowat 5 000 mans gestuur om die boere aan te val. Die boere was net 35 man sterk en moes laer trek om hulle en hul gesinne teen Silkaats se aggressiewe soldate met assegaaie en skilde te verdedig.
Naweek- en vakansiebestemming
Die Vegkop-slagveld word al jare lank veral as ’n naweek- en vakansiebestemming vir Die Voortrekker-beweging uit alle uithoeke van die Vrystaat benut asook vir ander belangstellendes.
Vegkop is ’n Bortle 2- sterrekundige terrein terwyl Sutherland ’n Bortle 2-3 terrein is. ’n Bortle 3-donkerlugskaal (gewoonlik na verwys as bloot die Bortle-skaal) is ’n numeriese skaal met nege vlakke wat die naghemel se helderheid van ’n spesifieke plek meet.
Dit kwantifiseer die astronomiese waarneembaarheid van hemelse voorwerpe en die interferensie wat deur ligbesoedeling veroorsaak word. Die amateursterrekundige John E. Bortle het die skaal geskep en dit in die Februarie 2001-uitgawe van die tydskrif Sky & Telescope gepubliseer om lugkykers te help om die donkerte van ’n waarnemingsterrein te evalueer en die donkerte van waarnemingsterreine te vergelyk.
Volgens Jaqui du Toit, wat die geleentheid op die Vegkop-terrein organiseer, sien die organiseerders baie daarna uit om veral skoolkinders se kennis oor sterre te verbreed.
Klik hier vir nog besonderhede oor die Big Vegkop Star Party.