Central SA
Instandhouding geëis by Vrystaatse natuurreservaat─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:22 Fri, 21 Mar 2025

Dringende herstelwerk moet by 'n vervalle Vrystaatse natuurreservaat gedoen word.
Die eens florerende Rustfonteindam-natuurreservaat naby Bloemfontein benodig dringende instandhouding, sê Edwin Maliela, DA-raadslid vir die Mangaung-metro.
“Die DA het vir etlike jare kommer uitgespreek oor die verslegtende toestand van die reservaat, maar die ANC-regering het versuim om op te tree."
Volgens Maliela hou die gebreekte heinings en versperrings, asook verlate fasiliteite steeds 'n bedreiging in vir plaaslike biodiversiteit, gemeenskapsveiligheid en toerisme.
“Die DA se verteenwoordigers in die Vrystaatse wetgewer het die kwessie formeel geopper deur skriftelike vrae en aanspreeklikheid van Ketso Makume, LUR vir ekonomiese ontwikkeling, kleinsake, toerisme en omgewingsake, te eis.
Die heinings by die Rustfonteindam-natuurreservaat is gebreek. Foto verskaf
Makume sê alle natuurreservate sal na die Vrystaatse departement van landbou, landbouontwikkeling en omgewingsake oorgedra word, maar hierdie oordrag moet nog plaasvind.
Maliela beklemtoon ’n dringende moniteringsbesoek sal aangevra word om die volle omvang van die skade te bepaal. Die Rustfonteindam-natuurreservaat is in 1955 gestig en dien as 'n belangrike waterbron vir Botshabelo, Thaba Nchu en Excelsior.
“Die reservaat is die tuiste van ’n verskeidenheid wild soos swartwildebeeste, blesbokke, springbokke, Burchell se sebras en talle voëlspesies. Weens die verwaarlosing van die ANC-beheerde regering het die reservaat se toestand aansienlik versleg,” sê Maliela.
‘Gewilde kampeerplekke soos Palmietfontein is laat vaar’
"Die heining rondom die reservaat het verswak tot die punt waar dit stropery en vandalisme aktief aanmoedig," sê Maliela. “Daarbenewens is die draadversperrings beskadig wat na die watersuiweringsaanleg lei. Dit stel die fasiliteite aan verdere skade bloot. Eens gewilde kampeerplekke soos Palmietfontein is laat vaar wat die plaaslike ekonomie van broodnodige toerisme-inkomste ontneem het.”
Maliela sê hierdie voortdurende verval is onaanvaarbaar. “Die DA glo vas natuurreservate moet bewaar en beskerm word vir die genot en veiligheid van alle inwoners.
“Ons sal voortgaan om te veg dat hierdie waardevolle ruimtes behoorlik onderhou en toeganklik gemaak word vir die publiek.”
OFM Nuus dg