Central SA
Noordwes beëindig skoolvervoerkontrakte weens nienakoming─── KEKELETSO MOSEBETSI 10:15 Thu, 20 Mar 2025

Noordwes se departement van gemeenskapsveiligheid en vervoer het twee dosyn skoolvervoerders se kontrak beëindig nadat hul busse onpadwaardig verklaar is.
Hans Kekana, departementshoof, het dit Woensdag (19/3) op ’n gesamentlike komiteevergadering met die wetgewer bekendgemaak. Onpadwaardige skoolvervoer bly ’n groot probleem in die provinsie, het hy gesê.
“Ek dink pas verlede week of die week vantevore het ons sowat 24 kontrakte beëindig. Ons het die lys aan die komiteevoorsitter gegee van diensverskaffers [wie se dienste] beëindig is weens nienakoming.”
Volgens die diensbestuurooreenkoms word kontrakteurs sewe dae gegun om hul busse te herstel, het Kekana gesê. “Die probleem is dat sommige voertuie reeds as nakomend gesertifiseer was, maar steeds as onpadwaardig uitgeken is, veral ná video’s van rokende busse wyd versprei is.”
Die departement ervaar verskeie uitdagings met diensverskaffers. Sommige beweer hulle word nie betaal nie, maar ondersoeke het getoon dat hulle nie hul fakture ingedien het nie.
Die soeklig val reeds jare op skoolvervoer in Noordwes, terwyl die Menseregtekommissie (MRK) ’n ondersoek daarna begin het.
Dit het weer ter sprake gekom weens die omstredenheid van die Viola Motsumi, onderwys-LUR, se reis na Italië. Sy het die Spesiale Olimpiese Winterspele in Turyn bygewoon en was gevolglik afwesig tydens ’n belangrike MRK-sitting oor skoolvervoer. Dit het kritiek ontlok oor haar prioriteite.
Motsumi het egter gesê sy het eers van die uitnodiging gehoor terwyl sy reeds in Italië was, nádat Prince Masilo, waarnemende departementshoof, uitgevra is oor die probleme met skoolvervoer.
Meer as 9 000 leerlinge in die provinsie het na bewering geen toegang tot skoolvervoer nie. Benewens die afwesigheid van vervoer was baie leerlinge reeds in ongelukke betrokke weens onpadwaardige busse en minibustaxi’s, veral op die platteland.