Central SA
Vyf werknemers van Noordwes-munisipaliteit in hof weens bedrog─── CHARNÉ VAN DER MERWE 15:00 Wed, 19 Mar 2025

Die gewese finansiële hoof van ’n Noordwes-munisipaliteit en ander amptenare sal na verwagting Donderdag (20/3) om borgtog aansoek doen nadat hulle na bewering die munisipaliteit uit meer as R25 miljoen bedrieg het.
Die vyf beskuldigdes van die Bojanala Platinum-distriksmunisipaliteit, gebaseer in Rustenburg, is Leslina Olga Ndlovu (45), voormalige finansiële hoof; Patrick Tlhapi (53), voormalige hoofsweep; Gontse Kekana (39), sekretaresse van die gewese munisipale bestuurder; Mantsho Gloria Moremi (38), ’n diensverskaffer; en Pogisho Patrick Shikwane (53).
Hulle het Dinsdag (18/3) in die Rustenburgse landdroshof voorgekom op aanklagte van bedrog, geldwassery en korrupsie, sê kol. Tinyiko Mathebula, Valke-woordvoerder vir Noordwes.
Die beweerde bedrog is tussen Desember 2018 en Mei 2019 gepleeg.
Een van die beskuldigdes kom by die hof aan. Foto: Valke
“In 2018 het Ndlovu na bewering met ’n diensverskaffer saamgesweer om haar maatskappy betalings van Bojanala te laat eis vir dienste wat deur ’n ander maatskappy gelewer is. Die ander maatskappy is in die munisipaliteit se databasis geregistreer,” sê Mathebula.
Die diensverskaffer, wat steeds op vrye voet en deel van die bedrogspul is, was nie op die munisipaliteit se databasis geregistreer nie. “Die R25 miljoen is uiteindelik in ’n bankrekening inbetaal wat nie in die munisipaliteit se databasis gelys is nie. Dit is steeds nie bekend aan die publiek aan wie hierdie rekening behoort nie.”
Meer as een diensverskaffer was glo by die bedrog betrokke. Mathebula het ook gesê dat nog twee diensverskaffers binnekort in hegtenis geneem kan word.
Nog 'n beskuldigde word in hegtenis geneem. Foto: Valke
Die Valke se ondersoek het aan die lig gebring dat meer as R2 miljoen van ’n diensverskaffer se bankrekening oorgeplaas is na die bankrekening van ’n maatskappy wat deur Ndlovu besit word.
“Boonop is R150 000 van die diensverskaffer se rekening na Tlhapi se persoonlike bankrekening oorgeplaas, en Kekana het glo R850 000 ontvang. Sy is nie meer in diens van die munisipaliteit nie,” sê Mathebula.
Shikwane staan tereg op 53 aanklagte van bedrog, 53 van geldwassery en een van die oortreding van die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Finansiële Bestuur.
Een van die beskuldigdes kom by die hof aan. Foto: Valke
Ndlovu staan tereg op 53 aanklagte van bedrog, 53 van geldwassery en vyf van korrupsie.
Tlhapi word deur ’n aanklag van korrupsie in die gesig gestaar, en Kekana twee aanklagte van korrupsie. Moremi staan tereg op ’n aanklag van geldwassery.
OFM Nuus cg