,,,
On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams
,,,

Central SA

Moordenaar van Keimoes-konstabel kry lewenslank

───   12:06 Wed, 19 Mar 2025

Moordenaar van Keimoes-konstabel kry lewenslank | News Article
Chidi Emmanuel Okafor (middel), die veroordeelde polisiemoordenaar, tydens ’n vorige hofverskyning. Foto: lindaikejisblog.com

Die hooggeregshof op Upington het ’n man lewenslange tronkstraf opgelê vir die moord op ’n polisiebeampte.

Konst. Stefano Nico Visagie, wat verbonde was aan die Upingtonse openbareorde-eenheid, ’n buurman en ander mense wat daar gekuier het, het vroeg in 2020 geslaap toe Chidi Emmanuel Okafor (38) hulle oorval, sê lt.kol. Tebogo Thebe, Noord-Kaapse Valke-woordvoerder.

Gemsbok het vroeër berig Okafor, wat op Keimoes gewoon het, was op 8 Januarie in ’n woordewisseling betrokke met sy buurman Ryno Renee van Wyk, het Mojalefa Senokoatsane, Noord-Kaapse NVG-woordvoerder, gesê.

“Op die noodlottige dag het … Visagie en ander mense by Van Wyk gekuier en gedrink. Na bewering het Okafor, wat ook in sy huis saam met sy vriende gedrink en gerook het, almal wat by Van Wyk gekuier het met die dood gedreig.”

Met graaf verjaag

Getuies het tydens die verhoor getuig terwyl almal geslaap het, het die beskuldigde Van Wyk se huis gewapen met ’n skerp voorwerp binnegegaan, het Senokoatsane gesê. Hy het Visagie, wat op die vloer geslaap het, gesteek. Daarna het hy Van Wyk ook aangeval en in die bobeen gesteek.

Okafor is self beseer tydens ’n worsteling met Van Wyk. Ander mense wat daar oornag het, het die slagoffer hoor skree. Een van hulle het Okafor met ’n graaf aangeval, waarna Van Wyk kon ontsnap.

Okafor het glo na sy huis teruggekeer, ’n paar besittings bymekaargemaak en op die vlug geslaan, het Senokoatsane gesê. Die wapen wat hy gebruik het, is later in ’n vragmotor gevind wat die beskuldigde ’n saamrygeleentheid gegee het. Blykbaar het dit uit sy broeksak geval.

Gemsbok berig in Oktober oor die uitstel van die moordverhoor.

Visagie het aan sy steekwonde beswyk en die beskuldigde is aangekla van huisbraak met die opset om moord te pleeg, poging tot moord en moord.

Die saak is na die Valke op Upington oorgedra, sê Thebe, wat hom moes opspoor. Hy is eindelik in Klerksdorp gewaar, waar hy in hegtenis geneem is en terug Noord-Kaap toe gebring is vir ’n lang verhoor. Okafor is in Augustus skuldig bevind en Dinsdag (18/3) tot lewenslange tronkstraf gevonnis op die hoofaanklagte en tien jaar vir poging tot moord. Hy sal die vonnisse gelyklopend uitdien.

Intussen het Upington se streekhof Jan-Ray April (28) Dinsdag skuldig bevind aan twee aanklagte van bedrog nadat hy twee voertuie van R749 999 met vervalste dokumente – soos sy bewys van indiensneming en werkkontrak – gekoop het.

Moet R280 000 terugbetaal

Nadat die Valke ondersoek ingestel het, het hulle beslag gelê op albei voertuie. ’n Finansierder het ’n potensiële verlies van R749 999 gely, sê Thebe.

April is skuldig bevind op albei aanklagte en is gevonnis tot ses jaar tronkstraf, in geheel vir vyf jaar opgeskort op voorwaarde dat hy nie in dié tyd aan ’n soortgelyke misdaad skuldig bevind word nie en R280 000 aan die finansierder terugbetaal.

Genl.maj. Stephen Mabuela, Noord-Kaapse Valke-hoof, loof die beamptes van Upington vir hul deeglike werk in die ondersoek na die wetstoepasser se dood. “Polisiemoorde plaas druk op ons vermoë om misdaad te bestry en dit kan beskou word as ’n regstreekse aanval op die staat se gesag; daarom verwelkom ons die vonnis.”

OFM Nuus/Morné van Rooyen cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.