On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Kleuterzone se lot oor twee maande beslis

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:34 Wed, 19 Mar 2025

Kleuterzone se lot oor twee maande beslis | News Article
Anthonie Bougas. Foto: Facebook

Die hooggeregshof in Pretoria sal op 14 Mei bepaal of die omstrede Kleuterzone Operations (Edms.) Bpk. permanent gelikwideer sal word nadat die maatskappy Dinsdag (18/3) in voorlopige likwidasie geplaas is.

Anita Susanna du Plessis (55) van Koster, Noordwes, het ’n dringende aansoek gebring om Kleuterzone tydelike te laat likwideer. 

’n Likwidateur, wat nog aangestel moet word, sal die Kleuterzone-groep ondersoek en minstens R130 miljoen van beleggers se geld moet opspoor, sê Willem Petzer, ’n gemeenskapsaktivis wat intussen ’n WhatsApp-groep gestig vir almal wat deur die saak geraak word. 

Dit lyk of Anthonie Bougas se videos, waar hy oor die skool praat, verwyder is van sosiale media. Foto: Moneyweb

Du Plessis, ’n belegger in die omstrede maatskappy, het einde Desember R900 000 betaal vir R1 000 000 se B-klas-aandele in Kleuterzone. (Die groep het “spesiale aanbod” gehad van R500 000 se aandele vir ’n belegging van R450 000.) Sy beweer dat Kleuterzone insolvent is en nie in staat is om sy finansiële verpligtinge na te kom nie.

Nóg Anthonie Bougas (32), die hoof van Kleuterzone, nóg enige ander personeellede was Dinsdag in die hof teenwoordig. Verder was daar geen regsverteenwoordiging van Bougas of Kleuterzone om die aansoek te opponeer nie.

Benewens Du Plessis is nog twee applikante – Mishka Naidoo en Sesheni Nadesan Howes – Dinsdag by die saak gevoeg. Volgens Naidoo en Howes se aansoek het Kleuterzone minstens 1 300 beleggers gehad, wat elkeen minstens R100 000 moes belê.

Bougas het die afgelope vyf jaar meer as 1 300 beleggers oorreed om in die groep te belê en sowat R500 miljoen ingevorder met sy maatskappy se “unieke konsep” om sowat 130 skole te bekom. Sy maatskappy se aktiwiteite het egter onder die loep gekom nadat Moneyweb vroeër berig het oor kommer oor die volhoubaarheid van Kleuterzone se sakemodel. 

Naidoo en Howes het saam R1,2 miljoen in Kleuterzone belê, volgens hulle vanweë die versekering dat hulle aansienlike uitbetalings op die sewende van elke maand kon verwag.

Ingevolge die tydelike bevel sal die saak weer op 14 Mei in die hof aangehoor word, wanneer ’n beslissing gevel sal word of die voorlopige likwidasie permanent gemaak sal word.

OFM Nuus mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.