Central SA
‘Maak fout reg’ oor Noord-Kaapse polisie se taalbevel─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:04 Wed, 19 Mar 2025

Die Noord-Kaapse polisiekommissaris word gevra om die polisiediens se opdrag terug te trek dat alle verklarings slegs in Engels afgeneem mag word.
Na aanleiding van opdragte aan polisiebeamptes in die provinsie om verklarings van misdaadslagoffers uitsluitlik in Engels af te neem, vra die DA lt.genl. Koliswa Otola moet dié “foutiewe” opdrag onmiddellik terugtrek en regstel, sê Lisa Schickerling, DA-adjunkwoordvoerder oor polisieaangeleenthede.
Volgens Kaapse Forum is hierdie opdrag in stryd met Artikel 6(3)(1) van die Grondwet, wat provinsiale regerings opdrag gee om ten minste twee amptelike tale te gebruik. Die organisasie beweer hierdie beleid diskrimineer teen die provinsie se oorwegend Afrikaanssprekende bruin gemeenskap.
Lt.genl. Koliswa Otola. Foto: Facebook
Schickerling sê volgens die 2022-sensus was Afrikaans die moedertaal van ongeveer 54% van die Noord-Kaap se bevolking. “Setswana is die primêre taal van 35,7%, terwyl slegs 2,4% Engels as hul eerste taal praat.
“Die opdrag wat slagoffers dwing om misdade in Engels aan te meld en polisiebeamptes verplig om as vertalers op te tree, is onregverdig.”
Sy wil weet waarom die polisiediens dit sou oorweeg om weer hierdie benadering te volg, gegewe die regsuitdagings ná ’n soortgelyke taalopdrag, wat in 2016 in die Noord-Kaap uitgereik is. “Dit sal bloot misdaad vererger, want slagoffers sal ontmoedig word om misdaad aan te meld, kriminele sake sal verswak word, en slagoffers sal van hul kans op geregtigheid beroof word.”
‘Verseker dat korrekte kommunikasie na alle SAPD-strukture uitgaan’
Die DA het met Otola kontak gemaak. Sy het “toegegee dat ’n foutiewe opdrag deur die adjunk- provinsiale kommissaris uitgereik is.
“Ons het haar gevra om die opdrag dringend te herroep en te verseker dat korrekte kommunikasie na alle SAPD-strukture uitgaan voordat iemand se regte geskend word.”
Die party beklemtoon die polisie diens moet “’n funksionele vlak van veeltaligheid binne die provinsie … handhaaf om die regte van misdaadslagoffers te beskerm, te verseker dat hulle met waardigheid behandel word, en strafsake ’n regverdige kans op suksesvolle vervolging te gee”.
Lisa Schickerling. Foto: DA
Intussen het AfriForum ’n formele klag by die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT) ingedien oor wat hy as ’n “ernstige skending van taalregte en menseregte” in die opdrag beskou.
Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake, het gewys op die ironie in genl.maj. L. Ngubelanga, adjunk- provinsiale kommissaris, se brief wat die Grondwet aanhaal om die opdrag te regverdig. Die brief verwys ook na ’n soortgelyke opdrag van 2016, wat in 2017 herroep is nadat Solidariteit regstappe begin het.
Reg om veelvuldige tale te gebruik
“Die adjunk- provinsiale kommissaris verstaan duidelik nie die skikking wat in 2017 in die Noord-Kaapse hooggeregshof bereik is nie, en sy begryp ook nie die betekenis van die Grondwet se bepaling, wat die reg om veelvuldige tale te gebruik onderstreep nie.”
Bernard Pieters, van Kaapse Forum, kritiseer ook die opdrag en beklemtoon dat slegs 2,4% van die Noord-Kaapse bevolking Engels as hul huistaal praat. Hy noem die potensiaal vir onakkuraathede wanneer polisiebeamptes, wat dalk nie Engels magtig is nie, verklarings aflê in ’n taal wat nie hul moedertaal is nie.
OFM Nuus mvh