On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Erdvark Henrie steel harte by Noord-Kaapse sentrum

───   KAREN VAN DER BERG 09:13 Fri, 07 Mar 2025

Erdvark Henrie steel harte by Noord-Kaapse sentrum | News Article
Henrie, ’n erdvarkkleintjie, steel harte. Foto: Kalahari Wildlife Project

’n Klein diertjie met ’n groot persoonlikheid is besig om die harte te steel van almal by die Kalahari Wildlife Project, ’n rehabilitasiesentrum vir beseerde en weesdiere in die Noord-Kaap.

Henrie, ’n baba-erdvark, is wees gevind nadat sy ma waarskynlik deur stropers doodgemaak is. 

Danksy die toegewyde en sorgsame span by die sentrum gedy hy. Soos met elke dier wat die sentrum versorg, moet omstandighede optimaal geskik wees vir voor hy vrygelaat word.

Henrie is nog te jonk om die natuur aan te durf en word 24 uur per dag versorg. Hy kry ’n spesiale melkformule en noukeurig beheerde voeding.

Dit gaan goed met die diertjie, sê dr. Sherike van der Merwe, die veearts wat na hom omsien. “Die doel is om diere soos Henrie te rehabiliteer sodat hulle eindelik vrygelaat kan word en self in die natuur kan oorleef.

Henrie, ’n erdvarkkleintjie, by Kalahari Wildlife Project. Foto: Kalahari Wildlife Project

“Baie van die diere wat ons red, moet eers gesond word en weer leer hoe om vir hulself te sorg voordat ons hulle kan vrylaat,” verduidelik sy.

Van der Merwe sê miervreters is saggeaarde diere wat geen bedreiging vir enigiemand inhou nie. “Tog word hulle gejag vir hulle vleis en vang mense hulle om hulle as troeteldiere aan te hou.”

Henrie het vinnig almal se harte gesteel. Foto: Kalahari Wildlife Project

Henrie het vinnig ’n gunsteling onder personeel, vrywilligers en besoekers geword. Anja du Plessis, ’n student wat by die sentrum werk en hom daagliks versorg, beskryf hom as vol energie en as ’n nuuskierige diertjie. “Elke stappie en tyd saam met Henrie is ’n avontuur en baie spesiaal.”

Sy sê min rehabilitasiesentrums het al erdvarke grootgemaak en daarom bly dit vir hulle ’n unieke ervaring. “’n Dieretuin in Viëtnam gee ons baie raad oor Henrie se voeding en gedrag omdat hulle al baie grootgemaak het.”

Henrie, ’n baba-erdvark, is wees gevind. Foto: Kalahari Wildlife Project

Die sentrum bestaan sedert 2018 en is daartoe verbind om wild te beskerm, sê Machel van Niekerk, eienaar en bestuurder. Hulle spits hulle toe op ingryping, rehabilitasie en die vrylating van beseerde diere en diere wat wees gelaat word.

“Die versorging van hierdie diere bring egter uitdagings mee, veral met die voorsiening van die regte voeding vir elke spesie. Die sentrum is afhanklik van skenkings van melkformules, vleis, komberse en ander noodsaaklikhede om (ons) belangrike werk voort te sit.”

Vir diegene wat Henrie en die ander diere hier se versorging en ander wildreddings wil ondersteun, kan hulle Facebook-blad besoek. Intussen word ’n 4x4-naweek in Augustus ten bate van die sentrum gehou.

OFM Nuus/Karen van der Berg mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.