On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Dealesville-kameelperd kry 50%-kans op oorlewing ná kritieke operasie

───   ZENANDE MPAME 12:48 Wed, 05 Mar 2025

Dealesville-kameelperd kry 50%-kans op oorlewing ná kritieke operasie | News Article
’n Ander kameelperd het onlangs ’n duiker se skedel heel ingesluk. Dr. Stephen Gerber, veearts van die Nylstroom Dierekliniek, het gehelp om dit te verwyder. Foto: Nico Smit

Die onlangse baanbrekersoperasie op ’n kameelperd op ’n afgeleë wildsplaas tussen Dealesville en Boshof is ’n merkwaardige prestasie in wildbewaring en veeartsenykunde.

Die span veeartse skat die sukseskoers op 50%, met hoop dat dit tot 60% sal verbeter sodra die gips oor agt weke verwyder word.

Die kameelperd het intussen teruggekeer na sy trop, vreet en beweeg normaal, en toon belowende tekens van herstel ná die gevaarlike operasie, wat op Woensdag 19 Februarie uitgevoer is.

“Die grootste uitdaging was om die kameelperd op te spoor en veilig te vang in sy rotsagtige, beboste habitat – net die verdowingsproses het etlike ure geneem,” sê prof. Francois Deacon, medeprofessor in dierewetenskap aan die Universiteit van die Vrystaat (UV).


“Aanvanklik is die kameelperd se oorlewingskanse op net 20% geraam, maar ná twee weke het dit tot meer as 50% verbeter. Anders as in ’n hospitaal moes ons in die buitelug ’n operasieplek inruim, die dier stabiliseer en met beperkte toerusting werk.”

Ondanks finansiële beperkings het die span se vasberadenheid om die prosedure te probeer, waardevolle lesse geleer wat toekomstige gevalle kan help, sê hy.

’n Span van vyf veeartse, vangspesialiste en wetenskaplikes, onder leiding van dr. Willem Daffue van die Kroonstad-dierehospitaal, het die operasie uitgevoer met sy uitgebreide ervaring in die behandeling van kameelperde.

Die veeartse het staalpenne gebruik om die been te stabiliseer. Foto: ufs.ac.za

By nadere ondersoek het die span vasgestel dat die kameelperd se onderbeen los en gebreek was, wat die risiko ingehou het dat die bene deur die vel sou breek.

Die veeartse het die wond skoongemaak en die gebreekte beenfragmente verwyder terwyl die dier onder verdowing en plaaslike narkose was. Daarna het hulle chirurgiese vlekvrye staalpenne gebruik om die been te stabiliseer, en dit met ’n dik spalk versterk, ondersteun deur PVC-pype vir ekstra stabiliteit.

“Dit was toevallig dat ons wetenskaplikes uit die VSA op daardie tydstip hier gehad het – hulle kon help, raad gee en antibiotika toedien tydens die prosedure.”

Die span veeartse skat die sukseskoers op 50%, met die hoop dat dit tot 60% sal verbeter. Foto: ufs.ac.za

“Wat ons hieruit geleer het, is dat as jy nie probeer nie, sal jy nooit weet nie. Die maklikste besluit sou gewees het om glad nie hierdie operasie te waag nie, weens die risiko’s en die hoë koste,” sê Deacon.

Hy beklemtoon dat die span se bereidwilligheid om die prosedure aan te pak, ’n waardevolle leerervaring was wat toekomstige gevalle kan bevoordeel.

Dié operasie is aangepak nadat die plaaseienaar gesien het die kameelperd loop mank nadat hy moontlik sy been gebreek het. 

OFM Nuus/Zenande Mpame cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.