Central SA
Hartswater-moord: Beskuldigdes hoor dié week hul vonnis─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:46 Wed, 05 Mar 2025

Die vier vermeende moordenaars van ’n egpaar en hul dogter van Hartswater, word na verwagting vandeesweek gevonnis.
Donald Seolesang, Tshepo Visagie, Kgomotso Mpumlwana en Tshepaone Melato het Maandag (2/3) in die Hartswater-distrikshof verskyn waar hulle die slotbetoë van die staat en die verdediging aangehoor het.
Hulle sal na verwagting Donderdag (6/3) hoor of hulle skuldig bevind gaan word aan die drievoudige moord op Dan (83), Breggie (73) en Elzabie Brand (54), sê Mojalefa Senokoatsane, Noord-Kaapse NVG-woordvoerder.
LEES OOK: Verhoor van Brand-familielede se moorde uitgestel
Die Brand-gesin is op 26 Julie 2020 by hul plaaswoning in ’n lokval gelei, ontvoer en vermoor.
“Volgens die staat se getuienis is die Brand-familielede laas omstreeks 13:00 op die dag van hul verdwyning gesien en is die volgende dag as vermis aangemeld,” sê Senokoatsane. Van die items wat voete gekry het, was twee voertuie: ’n rooi Nissan Micra en ’n silwer Mazda.
Hy sê die verdagtes is die aand nadat die Brands laas gesien is in die Mazda op die N18 aangekeer. Die Nissan Micra is verlate in ’n steengroef gekry.
LEES OOK: Hof hoor hoe Brand-gesin vermoor is
Later is die liggame van Dan en Elzabie onder lappe op aparte plekke in ’n veld gevind, albei met hul hande en voete vasgebind. Breggie se lyk is ontdek waar sy toegedraai was in ’n duvet in ’n rotsskeur naby ’n fontein.
Die beskuldigdes staan tereg op drie aanklagte van moord, ontvoering, dwarsboming van die gereg en roof met verswarende omstandighede.
Tshepaone Melato (21), aanvanklik een van die beskuldigdes, het tydens een van die verhore staatsgetuie geword. Die oorblywende beskuldigdes pleit onskuldig op alle aanklagte.