Central SA
Bestuurder gesoek ná tref-en-trap in Noord-Kaap─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:28 Wed, 05 Mar 2025

Noord-Kaapse polisie vra die publiek se hulp om ’n voertuig en bestuurder op te spoor wat in ’n noodlottige tref-en-trapvoorval betrokke was.
’n Man het Saterdag (1/3) sy lewe verloor op die N14 naby Melkstroom, sê ao. Omphile Masegela, Noord-Kaapse polisiewoordvoerder. Die bestuurder het nie stilgehou en word nog gesoek.
Die oorledene se naasbestaandes het hom Maandag uitgeken. Enigeen met inligting wat die polisie in hul ondersoek kan help, word gevra om sers. Bahedile Nkwadipo by 082 495 4615 te nader.
‘Laas gesien toe sy die naweek by ’n vriend gekuier het’
Intussen vra Senekal se polisie dringend die gemeenskap se hulp om ’n vermiste persoon van Winburg op te spoor. Mosetlo Getrude Litabe (42) is laas gesien toe sy die naweek by ’n vriend in Matwabeng, Senekal, gekuier het, maar sy het nooit teruggekeer huis toe nie, sê ao. Mmako Mophiring, Vrystaatse polisiewoordvoerder.
Haar wit Hyundai ix35, met die registrasienommer HNB 171 FS, is Maandag verlate op die N5 gevind, sowat 20 km buite Senekal.
Enigiemand wat weet waar Litabe haar bevind, kan kapt. Quinton Calvert by 082 466 7635 kontak, óf Stop Misdaad by 08600 10111.
‘Daar is geen wagtydperk om vermiste mense aan te meld nie’
Die Vrystaatse polisie wil die publiek herinner dat daar geen wagtydperk geld om vermiste mense aan te meld nie. Maak so wanneer iemand vermis word:
- Verskaf ’n onlangse foto van die vermiste persoon, indien moontlik.
- Gee ’n volledige beskrywing van die vermiste mens se laaste verblyfplek, klere wat hulle gedra het, asook enige inligting wat die ondersoekbeampte kan help.
- Voltooi en onderteken ’n SAPD 55(A)-vorm. Hierdie vorm beskerm die polisie teen gekskeerdery en vrywaar die polisie om die foto en inligting van die vermiste persoon te versprei.
- Kry die ondersoekbeampte se kontakbesonderhede en stuur enige bykomende inligting wat beskikbaar word.
- As ’n vermiste gevind word of vrywillig terugkeer, stel die ondersoekbeampte onmiddellik in kennis. ’n SAPD 92-vorm moet voltooi word om die buro vir vermiste persone in kennis te stel sodat die vermiste persoon se verslag uit die sirkulasiestelsel gehaal kan word.
OFM Nuus mvh