Central SA
Oranjerivier besoedel weens vervalle vullisterreine in Noord-Kaap─── CHARNÉ VAN DER MERWE 06:00 Wed, 05 Mar 2025

’n Burgerregteorganisasie voer gesprek met verskeie munisipaliteite oor die kritieke toestand van stortingsterreine in die Noord-Kaap en die nadelige uitwerking daarvan op die Oranjerivier.
Kimberley en dorpe soos Upington, Prieska, Kamieskroon, Williston en Springbok word stadigaan informele stortingsterreine, aangesien hul plaaslike munisipaliteit nie basiese afvalbestuurspraktyke kan toepas nie, sê Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari.
Afval word ook direk in die Oranjerivier gestort, wat ’n ernstige omgewingsbedreiging inhou.
Geen basiese infrastruktuur
Volgens Strauss is AfriForum aktief betrokke by die Namakwa-distriksmunisipaliteit, en die plaaslike munisipaliteite Kamiesberg, Karoo-Hoogland en Siyathemba wat nie een aan die kern- regulatoriese vereistes voldoen nie.
“Die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur bepaal dat stortingsterreine aan spesifieke vereistes moet voldoen, maar wat ons in die Noord-Kaap aanskou is uiters kommerwekkend,” sê Strauss.
Die meeste van hierdie dorpe het nie basiese infrastruktuur soos heinings rondom stortingsterreine nie, en daar is geen toesig oor wat by hierdie terreine gestort word nie.
LEES OOK: Vrystaat, Noord-Kaap het swakste vullisterreine
“Alles van dierekarkasse tot weggegooide motorbande word gestort. Sommige mense woon selfs op die stortingsterreine en steek vure aan, wat ’n ernstige brandgevaar in hierdie reeds droogtegeteisterde gebiede skep,” sê Strauss.
“’n Munisipale werker van Prieska het ook bevestig dat hy aangesê is om rou vullis direk in die Oranjerivier te gooi.”
Dis niks minder as ’n ekologiese ramp nie, sê Strauss. “Die rivier is ’n noodsaaklike waterbron vir baie gemeenskappe en wild, maar word nou as ’n informele stortingsterrein gebruik. Die afval vloei stroomaf en besoedel ander dorpe langs die rivier, en uiteindelik beland dit in die see.”
Die Oranjerivier. Foto: Wikipedia.
Strauss sê AfriForum het verlede maand ’n jaarlikse oudit van stortingsterreine gedoen. “Ons voer hierdie oudit elke jaar uit om die toestand van stortingsterreine (landwyd) te bepaal.”
Op Springbok wei vee soos skape, beeste en varke op die stortingsterrein, wat verskeie gesondheidsrisiko’s inhou. AfriForum se Springbok-tak het voorheen saam met die distriksmunisipaliteit gewerk om die stortingsterrein te verbeter.
“Ons het ’n kompakteerder ingebring om die vullis van die paaie te verwyder en dit op vragmotors te laai sodat dit behoorlik weggedoen kon word. Maar dit was net ’n tydelike oplossing. Nou is die stortingsterrein weer in ’n betreurenswaardige toestand,” sê Strauss.
Upington-stortingterrein verbeter
Op ’n beter noot het die Upington-stortingsterrein die afgelope jaar merkbare verbetering getoon, danksy verhoogde druk van AfriForum op die Dawid Kruiper-munisipaliteit.
“Ons het gesien dat nuwe kompakteerders aangekoop is, sekuriteitspersoneel moniteer nou toegang, en ’n nuwe heining is om die terrein opgerig. Hoewel daar nog uitdagings is, wys hierdie vordering wat bereik kan word wanneer munisipaliteite aanspreeklik gehou word.”
Tog het geen Noord-Kaapse stortingsterreine noodprosedures of dreineringskanale om gevaarlike afval te bestuur nie. “Hierdie vervalle stortingsterreine saai verwoesting in ons natuurlike omgewing. Onmiddellike ingryping is nodig om verdere skade te voorkom.”
OFM Nuus mvh