Central SA
Verdagte nog in hospitaal ná mesgeveg, beweerde moord─── KEKELETSO MOSEBETSI 15:27 Mon, 03 Mar 2025

’n Verdagte wat ná ’n mesgeveg in ’n Bloemfonteinse hospitaal vir steekwonde behandel word, sal in die hof verskyn sodra hy genoegsaam herstel het.
Die Vrystaatse polisie het die 22-jarige in die hospitaal in hegtenis geneem in verband met die moord op ’n man wie se liggaam met veelvuldige steekwonde in Ellastraat, Willows, gevind is.
Veelvuldige steekwonde
Die slagoffer (19) se liggaam is Sondag (2/3) omstreeks 05:30 gevind nadat die polisie na die toneel ontbied is, sê sers. Mahlomola Kareli, Vrystaatse polisiewoordvoerder. Hy het veelvuldige steekwonde aan die rug en linkerkant van die nek gehad en is deur nooddienste dood verklaar.
Kareli sê voorlopige ondersoeke wys iemand het die 22-jarige hospitaal toe geneem. Hy is in hegtenis geneem en onder polisiebewaking geplaas terwyl hy vir steekwonde behandel word.
Parkweg-speurders het sake van moord en aanranding met die opset om ernstig te beseer geopen, en die ondersoek duur voort.
Intussen sal sewe verdagtes in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn op aanklagte van openbare geweld en opsetlike saakbeskadiging ná ontwrigting tydens ’n sokkerwedstryd in die Vrystaat-stadion.
Sokkerondersteuners gewelddadig
Hulle is in hegtenis geneem nadat video’s op sosiale media versprei is waarin ’n groot groep sokkerondersteuners gesien kan word wat Saterdag (1/3) die stadion se hekke oopbreek om die stadion met geweld binne te kom.
Ná die wedstryd het aanhangers ook die veld bestorm om Marumo Gallants se grootste oorwinning van die seisoen in die Premiersokkerliga te vier, nadat hulle Orlando Pirates met 2-0 geklop het.
OFM Nuus/Kekeletso Mosebetsi cg