On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Laurika
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Ongelukke op N3: Vrystaatse bestuurders gemaan om versigtig te wees

───   ZENANDE MPAME 12:45 Mon, 03 Mar 2025

Ongelukke op N3: Vrystaatse bestuurders gemaan om versigtig te wees  | News Article
Ongelukke op N3: Vrystaatse bestuurders gemaan om versigtig te wees. Foto verskaf

Beamptes maan motoriste moet uiters versigtig bestuur op die N3 omdat bewolkte toestande sigbaarheid belemmer.

Verskeie noodlottige ongelukke is die naweek op die N3 aangemeld weens ongunstige weerstoestande waarin vier mense op slag dood is en twee beseer is.

In ’n ongeluk Sondag (2/3) tussen twee vragmotors en ’n passasiersmotor op die N3 noord van Warden, in die rigting van Villiers, is vier mense op slag dood en twee op die toneel behandel.

Die bestuurder van ’n BMW, wat noordwaarts gereis het, het beheer verloor ná die motor deur ’n waterplas gery en in die teenoorgestelde bane beland het, waar dit trompop met twee aankomende vragmotors gebots het.

’n BMW-bestuurder het beheer oor die voertuig verloor en reg van voor met twee naderende vragmotors gebots. Foto verskaf

Warden se polisie ondersoek die voorval, sê Hillary Mophethe, woordvoerder van die provinsiale departement van gemeenskapsveiligheid, paaie en vervoer. “Ongelukkig is vier mense noodlottig beseer … drie mans, onder wie die bestuurder, en ’n vrou.”

Hoewel geen reënval nog Maandag aangemeld is nie, bly dit bewolk, wat sigbaarheid verder beperk. “Ons doen ’n beroep op alle padgebruikers om uiterste versigtigheid aan die dag te lê, veral tydens reënerige toestande,” sê Mophethe.

Die N3-korridor is veral erg geraak waar verskeie voorvalle Sondag aangemeld is. Mophethe spoor motoriste aan om op die hoogte te bly van die jongste weervoorspellings en padtoestande deur betroubare bronne.


Arrive Alive se wenke vir bestuur op nat paaie:

  • Vermy water wat op paaie ophoop.
  • Verlaag spoed en hou ’n veilige volgafstand.
  • Vermy afleidings terwyl jy bestuur, aangesien jy slaggate kan miskyk.
  • Beplan ekstra reistyd sodat jy nie in slegte weer hoef te jaag nie.
  • Wees bewus van moontlike gevare, insluitend swak sigbaarheid, sterk winde en gladde paaie.
  • Gaan weerstoestande na voordat jy op reis gaan.

Die twee vragmotorbestuurders is nie beseer nie en is op die toneel deur nooddienste behandel.

Die weerdiens het ’n geel vlak twee-waarskuwing vir Maandag uitgereik. Kwaai donderstorms met swaar reën, sterk wind, oormatige weerlig en hael, wat plaaslike oorstromings op kwesbare paaie kan veroorsaak, word voorspel.

‘Wees uiters versigtig tydens reënerige toestande’

“Bly veilig op die paaie, en onthou: Versigtigheid is die sleutel tydens ongunstige weerstoestande. Kom ons werk saam om sulke tragiese voorvalle te voorkom,” sê Mophethe.

OFM Nuus/Zenande Mpame cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.