Central SA
Alternatiewe gereël vir kankermedisyne─── KEKELETSO MOSEBETSI 14:25 Mon, 03 Mar 2025

Noordwes se gesondheidsdepartement sê kommer oor ’n beweerde tekort aan kankermedikasie is ongegrond.
Die vrees het ontstaan nadat een van Mahikeng se hospitale glo sonder voorraad vir borskankermedikasie gesit het, wat onrustigheid onder inwoners veroorsaak het. Die departement gee egter die versekering dat alternatiewe medikasie aan pasiënte beskikbaar gestel is.
‘Geen tekort nie’
“Ons het geen tekort aan medisyne nie,” sê Tebogo Lekgethwane, provinsiale woordvoerder. “Daar is ’n spesifieke middel in Mahikeng se provinsiale hospitaal wat landwyd nie beskikbaar is nie, maar daar is ’n plaasvervanger. Dit het onsekerheid veroorsaak en mense het aangeneem dat daar glad nie medisyne was nie.”
Kankermedikasie word in Noordwes deur die nasionale kontrak vir die verskaffing en aflewering van onkologie- en immunologiese middels aan die gesondheidsdepartement voorsien. Lekgethwane erken die departement het die laaste paar maande uitdagings ervaar weens ’n onvoorspelbare voorsiening van sekere kankerbehandelings.
“Die gekontrakteerde verskaffers vir borskankerbehandeling het die nasionale departement … ingelig van voorraadbeperkings. Die hoofdirekteur vir sektorwye verkryging het intussen ’n omsendbrief aan alle gesondheidsdepartemente uitgestuur met riglyne oor hoe behandeling aangepas moet word en watter alternatiewe gebruik kan word.”
Hy verseker die publiek die nasionale departement is daadwerklik en dringend besig om die voorsieningsprobleme op te los deur alternatiewe verskaffers te soek. Intussen ontvang pasiënte Tamoxifen, ’n derde alternatief vir borskankerbeheer.
Ritshidze het kommer in 2023 geopper
Tamoxifen is nie die voorkeurbehandeling nie weens newe-effekte, gee hy toe, maar sê provinsiale apteke het genoegsame voorraad en medikasie word slegs in oorleg met spesialiste verander.
Ritshidze, wat gemeenskapsgedrewe moniteringsdata in Noordwes naspoor, het in ’n 2023-verslag ernstige kommer oor medikasietekorte en onvriendelike personeel in gesondheidsinstellings geopper.
Lekgethwane verseker pasiënte en gemeenskappe die departement werk hard om ’n stabiele voorraad medisyne en farmaseutiese dienste te verseker. Die totale beskikbaarheid van medikasie in 31 openbare apteke in die provinsie staan gemiddeld op 85,12%, wat die teiken van 80% oorskry.
Farmaseutiese dienste in Noordwes is in November 2023 onder interne ingryping geplaas nadat die provinsiale medisynedepot se voorraadbestuurstelsel ineengestort het. Sedertdien is verbeterings aangebring om dienslewering te verbeter en medisynevoorraad te stabiliseer.
Om sy sokkies op te trek
Die departement se ingrypings om sy sokkies op te trek, sluit in:
- ’n Eskalasieprotokol vir voorraadtekorte as ’n vroeë waarskuwingstelsel om alternatiewe behandelings te soek en sorgvoortsetting te verseker.
- Voortdurende samewerking met gekontrakteerde verskaffers om uitdagings die hoof te bied en voldoende medikasievoorraad te verseker.
- Verbeterde kommunikasie met klinici oor voorraadtekorte en alternatiewe behandeling.
- Inskakeling van pasiënte in die sentrale toedienings-en-verspreidingsprogram vir chroniese medisyne, wat verseker dat stabiele pasiënte hul chroniese medikasie direk van ’n gekontrakteerde diensverskaffer ontvang.
- Bewusmakingsveldtogte vir pasiënte deur middel van onderrigsessies, nakomingsklubs en mediabetrokkenheid soos radio-onderhoude.
OFM Nuus/Kekeletso Mosebetsi cg