Central SA
Noordwes op hoë gereedheid ná oorstromings─── ZENANDE MPAME 13:04 Mon, 24 Feb 2025

Noordwes-polisie hou steeds toesig oor ’n gebied waar ’n onbevestigde aantal mense glo deur vloedwater meegesleur is.
Intussen probeer inwoners wie se huis oorstroom is, hul besittings red. Niemand is egter nog as vermis aangemeld nie.
Beamptes waarsku inwoners om nie onnodige kanse te waag nie, aangesien verskeie paaie steeds onder water is en reddingspanne op hoë gereedheid bly.
Soek-en-reddingsoperasies is Sondag (23/2) gestaak ná oorstromings in Klerksdorp en Mahikeng.
“Ons sal steeds patrollies langs rivieroewers hou. Ons moet noem dat ons op hierdie stadium nie mense het wat as vermis aangemeld is nie,” sê Sabata Mokgwabone, Noordwes-polisiewoordvoerder.
“Die uitdaging is dat die persoon wat hierdie mense in die water gesien het, moes ry na die ander kant toe en nie weet wat in daardie tyd gebeur het nie.”
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê vanaf Maandag (24/2) word steeds verspreide reën oor die sentrale en oostelike provinsies verwag. Noordwes sal na verwagting bewolk en koel wees met verspreide buie en donderstorms oor die sentrale dele.
Intussen doen die vereniging vir plaaslike regering (Salga) ’n beroep op die nasionale regering en rampbestuursagentskappe om op te skud en die nodige finansiële ondersteuning te bied om kritieke infrastruktuur te herstel.
Inwoners moet binnenshuis bly en weg van watermassas af. Foto: SAPS
Inwoners word versoek om die volgende veiligheidsmaatreëls te volg:
- Vermy gebiede wat onder water is, en moenie probeer om oor oorstroomde paaie, riviere of brûe te beweeg nie.
- Maak seker dat ’n ontruimingsplan in plek is en hou ’n noodpakket met water, kos, medisyne en noodsaaklike items gereed.
- Help kwesbare groepe soos bejaardes, kinders en persone met gestremdhede in jou gemeenskap.
- Meld gevaarlike gebiede, soos ’n ineengestorte brug of beskadigde infrastruktuur, onmiddellik by jou plaaslike munisipaliteit of rampbestuursentrum aan.
- Bly binnenshuis en weg van watermassas af, aangesien gebiede wat maklik oorstroom, soos riviere, damme en laagliggende strate, vinnig en onverwags kan oorstroom.
Die oorstromings het verskeie hoofpaaie in die provinsie geraak, insluitend die N18 buite Mahikeng in die rigting van Stilfontein, die R30 tussen Klerksdorp en Ventersdorp, die R503 by Hartbeesfontein en die N4 naby Dinokana.
Ander roetes soos die N14 tussen Sannieshof en Delareyville, die R52 tussen Koster en Magaliesburg, en die R30 tussen Derby en Ventersdorp is ook ernstig ontwrig.