Central SA
Nagwaak vir Springs-polisielid wat tydens rooftog sterf─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:15 Mon, 17 Feb 2025

’n Nagwaak word Maandagaand (17/2) gehou vir ’n Oos-Randse polisiebeampte, wat sy lewe verloor het nadat rowers tydens ’n sakerooftog op hom losgebrand het.
Kapt. Wynand du Toit van Springs was van diens af toe inwoners hom Sondagoggend omstreeks 07:30 na ’n winkel in die voorstad Geduld ontbied wat deur gewapende rowers bestorm is, sê kol. Mavela Masondo, Gautengse polisiewoordvoerder.
’n Skietgeveg het ontstaan tussen die beampte en sowat vier verdagtes. Du Toit is gewond en na ’n mediese sentrum geneem vir behandeling, waar hy later aan sy beserings beswyk het.
Du Toit se weduwee, Nicky, skryf op Facebook haar man was ’n wonderlike man. “Rus in vrede, my Wynie, Ekke, Sheldon, Nathan en Clarinda sal jou gemis word.”
Ware held
Sy seun Sheldon het ’n foto van homself, sy broer, Nathan, en hul pa gedeel en gesê hulle gaan hom baie mis. “Dankie vir alles wat Pappa vir ons gedoen het. Baie lief vir Pappa en sal Pappa baie mis.”
Volgens ’n Facebook-inskrywing van Pick n Pay Springsgate het Du Toit 23 jaar lank as polisiebeampte gedien. “Jy was nie net ons beskermer nie, maar ook ons vriend,” skryf die winkel.
“Jy was ’n dierbare deel van die Pick n Pay Springsgate-familie en het altyd met vriendelikheid en toewyding na ons omgesien. Jy het jou lewe gegee om jou gemeenskap te beskerm ’n ware held wat nooit vergeet sal word nie.
“Rus in vrede, Wynand. Ons hart is met jou familie en vriende in hierdie moeilike tyd.”
Wynand en sy seuns, Sheldon en Nathan. Foto: Facebook
Niemand is nog in verband met Du Toit se moord in hegtenis geneem nie. Volgens die polisie werk ’n span speurders onverpoosd daaraan om leidrade op te volg en diegene vas te trek wat verantwoordelik is vir sy dood.
Lt.genl. Tommy Mthombeni, Gautengse polisiehoof, betuig intussen sy meegevoel met Du Toit se geliefdes. “Die dapper en toegewyde polisiekaptein het gesterf terwyl hy gereageer het op ’n oproep om te dien, al was hy van diens af.
“Ons sal verseker dat diegene wat vir sy dood verantwoordelik is, aangekeer en gestraf word omdat hulle een van ons eie geneem het.”