Central SA
Jong karateka van Bethlehem nederige uitblinker─── 13:15 Mon, 17 Feb 2025

Om reeds op 16 ’n wêreldreisiger danksy jou sportprestasies te wees wil gedoen wees.
Hanré Dreyer, ’n uitblinker-karateka van Bethlehem, is al tien jaar lid van die Japan Karate Shoto Federation-klub (JKS) in Bethlehem.
Onder leiding van Sensei Gerhardt Wächter, klubeienaar, is talle jong karatekas se vaardighede in gevegskuns met die jare al tot groot hoogtes gevoer.
Hanré se jongste prestasie spreek boekdele oor sy talent, harde werk en ook afrigting by die Bethlehemse klub toe hy die JKS Bushido-trofee gewen het. Dit is JKS SA se hoogste toekenning aan enige karateka.
Hanré by sy JKS Bushido-trofee op 8 Februarie. Dit is die hoogste toekenning en erkenning wat ’n karateka by JKS Suid-Afrika kan ontvang. Foto verskaf
Hanré vertel met geesdrif van dié sportsoort wat vir hom al soveel beteken het. Dié gevegskuns het in Okinawa in Japan ontstaan en bestaan uit ’n vorm van ongewapende geveg wat vuishoue, skoppe, blokke en slaan gebruik om jouself te verdedig.
Hy moet uiteraard topfiks wees. Selfs soggens voor sonop, sal ’n mens hom en sy groot ondersteuner, pa Kobus, op Goblepark kry waar Hanré sowat 3 km hardloop. Wintertyd dra hy ’n koplig sodat sy pa hom kan dophou.
Dissipline en respek
Om ’n karateka te wees, verg harde werk en lang ure. Hy is reeds deur die kleurereënboog en het sy negende gordel, die gesogte swart, losgeveg. Hy rig een middag per week saam met ’n vriendin karate af op Reitz en is opgewonde oor die vordering van karatekas.
Hanré sê die gevegskuns het hom van kleins af geleer hoe belangrik dissipline en respek is, veral teenoor enige mens. “Ek het geleer om te fokus en fisiek sterk te word.
’n Klein karatekannetjie nog in 2016 met sy eerste gradering vir die wit gordel. Foto verskaf
“Karate leer jou om jou fisieke krag, soepelheid, koördinasie, balans en uithouvermoë te verbeter. Dit het my ook gehelp om geestelik te fokus en my selfvertroue en dissipline te verbeter.”
Hy sê hy hou van al die uitdagings en om gemotiveerd te bly en doelwitte na te streef. “My groot droom is om deel te wees van Suid-Afrika se Youth Olympics Demonstration Team in 2026.
Karate is nog nie ’n erkende Olimpiese sport nie, vertel hy, maar dalk kan die 2026-span dit regkry om wel een te word.
Statebondspele in Durban
Hy was bevoorreg om aan die Statebondspele in Durban deel te neem, wat oorspronklik bedoel was vir Bangladesj, maar weens onrus na Suid-Afrika geskuif is. Hy het ook al in Japan, Tunisië, op talle plekke in Afrika, Namibië en Italië met ander karatekas meegeding.
Japan was vir hom die hoogtepunt van al die lande. “Dit is die skoonste land wat ek nog gesien het. Daar is dissipline, respek tussen mense en dis sommer net ’n eersteklasland.”
Dié gr. 10-leerling aan die Hoërskool Witteberg op Bethlehem het al vier keer die Protea-span gehaal. Daar was talle ander hoogtepunte en prestasies waarop hy kan terugkyk in sy karatekaloopbaan, en hy is dankbaar dat hy so bevoorreg is.
Een van Hanré se grootste oomblikke, saam met Masao Kagawa Shihan van JKS in Japan. Foto verskaf
Hy is ook dankbaar vir alles wat pa Kobus vir hom doen en beteken. Sy ma is sowat twee jaar gelede oorlede en die twee manne is ’n sterk span, ook in die huishouding wat hulle moet behartig.
Karate is darem pret ook, sê Hanré. Deelnemers lag baie en word hegte vriende. “Om nou ook self by afrigting op Reitz betrokke te wees is vir my ’n groot inspirasie. My pa is my taxi soontoe en terug op ’n Woensdagmiddag en as dit nie vir hom was nie, weet ek nie. Hy ondersteun my geweldig.”
Pa Kobus beskryf sy seun in drie woorde só: “Gentleman. Gedissiplineerd. Rustig.” Hy is voorwaar trots op hom.