Central SA
Ouers moet ‘wakker skrik’ oor kinders se skermtyd─── KAREN VAN DER BERG 11:18 Mon, 17 Feb 2025

’n Vrystaatse kindersielkundige se grootste wens is dat ouers hul oë sal oopmaak en bewus sal raak van wat op hul kinders se selfoon aangaan.
Om te beklemtoon hoe vinnig dinge kan hand uit ruk, vertel Natasja Rowe-Rowe sy is verlede jaar wetlik verplig om ’n twaalfjarige van Bloemfontein by die polisie te verkla omdat die meisie kinderpornografie op haar selfoon gehad het.
Enigiemand wat kinderpornografie vervaardig, besit of versprei kan strafregtelik aangekla en vervolg word en sodoende ’n misdaadrekord kry. Dit geld ook kinders bo twaalf.
Hoewel sulke jong kinders nie noodwendig dink “dit is so erg” of meen “niemand sal weet nie”, moet hierdie soort dinge in ’n ernstige lig beskou word. Dit gebeur dikwels dat kinders van hierdie ouderdom probeer inpas en maklik foto’s op versoek van iemand sal stuur, sê sy.
“Die grootste fout wat ouers maak, is om te dink hulle kinders is nie met hierdie soort dinge besig nie.”
’n Kind kan maklik aan hierdie dinge blootgestel word deur ’n skoolmaat wat dit vir hom of haar wys.
Dit gaan rof in die skole wat fone betref, waarsku Rowe, wat dikwels ingeroep word om sielkundige bystand te bied. “Mense kan maklik dink ek oordryf of wys net die slegte dinge uit. Maar voorkoming is beter as genesing, en ouers moet bewus wees van hierdie dinge.”
Natasja Rowe-Rowe. Foto verskaf
Sy waarsku: Ouers moet bybly met die nuwe tegnologie, want hul kinders is hul een voor. Kinders weet goed om hul soekgeskiedenis uit te vee. “Ek lag in my mou as ouers sê: ‘Ek weet waarna hulle kyk en wat hulle soektogte oplewer.’”
Sy het al hoeveel keer te doen gehad met “finsta”, oftewel fop-Instagram, wanneer iemand fopprofiele op dié sosialemediaplatform het. “Jy dink jy sien wat hulle op Instagram deel, maar in die werklikheid het hulle meer as een profiel.
“Daar is ook ’n stelling jou foon genaamd incognito, wat maak dat jy al die geskiedenis uitwis en geen spoor laat nie. Baie kinders weet dit.”
Rowe-Rowe waarsku die era waarin ouers kinders grootmaak, is ongekende terrein. “Daar gaan nog baie studies gedoen word oor die invloed van te veel skermtyd en sosiale media op kinders se lewe.
“Ons weet nog nie wat die uitwerking hiervan op die kinders se lewe gaan wees nie. Daarom waarsku ek ouers om waaksaam te wees.”
Voorgestelde riglyne
Sy raai mense aan om na te lees oor die voorgestelde riglyne van hoeveel tyd –heelwat minder as wat mense dink – kinders op hulle foon en anders skerms moet deurbring. Van die studies is deur vername internasionale universiteite gedoen.
Die groot gevaar van kinders en dit waaraan hulle blootgestel word, is dat hulle trauma kan opdoen. “Kinders se brein ontwikkel nog en hulle vermoë om rasioneel te dink, is nog nie ten volle ontwikkel nie.
“Daarom kan hulle dit waarmee hulle gekonfronteer word, soos pornografie, boelie en selfs afpersing, nog nie naastenby hanteer nie. Hulle het eenvoudig nie die vaardigheid nie.”
Ons leef wel in moderne tye en ons kan ons kinders nie van selfone weerhou nie. “Daarom is dit jou werk as ouer om jou kind veilig te hou. Ons is altyd so versigtig om hulle te beskerm wanneer hulle klein is.
“Ons span ’n veiligheidsnet oor die swembad en laat hulle in karstoeltjies ry. Mense moet selfone soortgelyk hanteer en kinders teen selfone beskerm en hulle veilig hou.”
Rowe-Rowe sê as ’n mens werklik eerlik oor hierdie saak dink, is ouers ewe skuldig. “Dink ’n bietjie aan hoeveel tyd jy op jou foon deurbring. Dit is die voorbeeld wat jou kinders sien.
“Dit maak nie saak hoeveel jy dit ontken nie, jy as ouer los alles waarmee jy besig is om ’n WhatsApp te lees en te antwoord. Die boodskap wat jou kind kry, is ek is nie so belangrik nie; my ouer se foon kry altyd voorkeur.”
Sy sê huishoudings moet skermvrye tyd teruggebring. Ouers moet ook hul foon leer neersit. “Navorsing het bewys, ’n mens kan nie aan twee goed gelyk aandag gee nie.”
Apps wat Natasja aanbeveel om op jou kinders se foon te installeer en dit te beheer, is: Our pact, Qustodio, Screentime en Covenant Eyes Screen.
OFM Nuus/Karen van der Berg cg