Central SA
Noordwes-polisie ondersoek oor-en-weer-skietery tussen wagte─── 13:19 Wed, 22 Jan 2025
Die Sun City-polisie in Noordwes ondersoek ’n skietvoorval waarin beamptes van twee private veiligheidsmaatskappye glo op mekaar losgebrand het.
Die polisie sê berigte op sosiale media dat die polisie betrokke was in die skietery, is ongegrond. Drie beamptes is ernstig beseer en sterk in die hospitaal aan.
Kol. Adele Myburgh, Noordwes-polisiewoordvoerder, sê die skietvoorval het Donderdag 16 Januarie 2025 by die Tuse-myn in Witrandjie, ’n dorpie naby Sun City buite Rustenburg, plaasgevind.
“Volgens berigte het ’n onderonsie tussen werknemers van twee private sekuriteitsmaatskappye ontstaan. Tydens ’n oor-en-weer-skietery is drie wagte ernstig beseer.
Verskeie vuurwapens op toneel gevind
“Sun City se sigbare polisiëring-afdeling en Rustenburg se eenheid vir openbare orde het vinnig ingegryp om die situasie te ontlont. Daar is op verskeie vuurwapens op die toneel beslag gelê wat vir ballistiese toetse gestuur is.”
Die polisie ondersoek twee aanklagte van poging tot moord en drie sake van opsetlike saakbeskadiging nadat drie voertuie deurspek met koeëlgate gevind is.
Myburgh het Woensdag (22/1) bevestig dat dit nog nie duidelik is wat aanleiding tot die onderonsie gegee het nie. “Niemand is nog in hegtenis geneem nie en die ondersoek duur voort.
Witrandjie buite Rustenburg. Foto: Tommy Trenchard/Business Week
“Bewerings wat op sosiale media versprei is dat die polisie by die skietery betrokke was, is ongegrond. Gemeenskapslede word versoek om nie verkeerde inligting te versprei wat onnodige paniek kan aanwakker nie.”
Intussen is Witrandjie die afgelope tyd telkemale in die nuus weens onwettige mynwerkers wat chroom “gevaarlik naby inwoners se huise” myn. News24 berig in Desember 2024 “zama-zamas het die dorpie oorgeneem en oral word diep slote gegrawe terwyl swaar masjinerie 24 uur ’n dag aan die gang is en inwoners uit die slaap hou”.
Witrandjie in nuus oor onwettige chroom-mynbou
Onwettige mynwerkers is glo ook gereeld in skietvoorvalle op mekaar betrokke. Verlede jaar het ’n Bloomberg-verslag geskat dat soveel as ’n miljoen ton chroomerts per jaar – meer as 10% van Suid-Afrika se totale chroomproduksie, of sowat 5% van die totale wêreldvoorraad – van onwettige myne afkomstig is.
Minstens 3 500 t chroomdraende rots is in ’n enkele dag alleen uit die dorpie Witrantjie vervoer, sê die verslag.