On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Verdagtes in moord op Bloemfonteinse oudlanddros bly in aanhouding

───   ZENANDE MPAME 10:59 Wed, 22 Jan 2025

Verdagtes in moord op Bloemfonteinse oudlanddros bly in aanhouding | News Article
Verdagtes in moord op Bloemfonteinse oudlanddros bly in aangouding. Photo: Facebook/SupaRugby

Die saak in die Bloemfonteinse landdroshof teen twee verdagtes in die moord op ’n oudlanddros is uitgestel tot Donderdag (23/1) om regshulp vir hulle te reël.

Letiscia Adams (41) en Jan Deal (51) het Dinsdag vlugtig voorgekom op aanklagte van moord, roof met verswarende omstandighede en regsverydeling. Hulle is in hegtenis geneem vir die moord op Piet Bester (63), oudlanddros en voormalige vaskopstut vir die Vrystaat en Griekwaland-Wes.

“Die verdagtes bly in aanhouding,” sê Mojalefa Senkoatsane, Vrystaatse NVG-woordvoerder.

Adams het as ’n huishulp gewerk en Deal as Bester se tuinier op sy plaas in die omgewing van Glen, buite Bloemfontein, waar hulle langer as 17 jaar in sy diens was.

’n Plaaswerker het Bester op Sondag 11 Januarie in ’n plas bloed aangetref met veelvuldige beserings. “Dit het gelyk asof Bester langer as twaalf uur dood was,” het kapt. Lorraine Earle, Vrystaatse polisiewoordvoerder, vroeër gesê. 

“Die polisie glo Bester is met ’n skerp voorwerp oor die kop geslaan, omdat hy ’n wond bo sy oog gehad het.”

LEES OOK: Twee verdagtes aangekeer ná dood van voormalige landdros van Bloemfontein 

Netwerk24 berig die saak is uitgestel om senior regspanne vir die beskuldigdes aan te stel, aangesien dit as ’n hoëprofielsaak beskou word.

André Bester, die oorledene se broer, glo die motief was roof, omdat geld uit sy sy huis vermis word.

Die VF Plus sê intussen sulke aanvalle het ’n regstreekse, verwoestende uitwerking op plattelanders en eis ’n onmeetbare tol op naasbestaandes en gemeenskappe.

“Die VF Plus wil boere aanmoedig om die lewens van hul gesin en werkers te verdedig in ooreenstemming met hul grondwetlike regte,” sê Jan van Niekerk, Vrystaatse partyleier.

Hulle doen ’n beroep op alle boere en plattelandse gemeenskappe om bykomende veiligheidsmaatreëls te tref omdat aanvallers voortdurend hul metodes verbeter. “Dit is nou belangriker as ooit om sekuriteit te prioritiseer, voorbereid te wees en waaksaam te bly.”

OFM Nuus/Zenande Mpame mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.