Central SA
Noord-Kaapse burgemeester in polisieselle oor gesinsgeweld─── 12:17 Tue, 07 Jan 2025
’n Noord-Kaapse burgemeester kom na verwagting binnekort in die landdroshof op De Aar voor nadat hy op aanklag van gesinsgeweld in hegtenis geneem is.
Marnus Visser, die burgemeester van die Thembelihle-munisipaliteit, is ’n lid van die Siyathemba-gemeenskapsforum (SGB), oftewel Die Bokke, wat die munisipale raad in koalisie met die ANC beheer. Opposisiepartye dring daarop aan dat Visser onmiddellik bedank of geskors word.
Hy behoort uit eie oorweging as burgemeester en raadslid te bedank, meen rdl. Paul van Niekerk van die VF Plus. “Geslagsgeweld is gedurende die Covid-19-pandemie as Suid-Afrika se ‘tweede pandemie’ verklaar, weens die hardnekkige voorkoms daarvan sowel as die vernietigende uitwerking wat dit op huishoudings en gemeenskappe het.”
Hy meen ’n raadslid moet iemand wees na wie mense opsien en wat ’n voorbeeld vir ontluikende volwassenes is.
Leonard Makenna van die EFF in die Noord-Kaap en ’n oudburgemeester van Thembelihle, wat Hopetown, Strydenburg en Orania insluit, sê die wet moet sy gang gaan ten spyte van Visser se amp.
Visser het Makenna in April as burgemeester opgevolg nadat ’n mosie van wantroue in die EFF-burgemeester geslaag het.
‘Afskuwelike bespotting van ’n gesagsfiguur’
“Dit is ’n afskuwelike bespotting dat ons ’n gesagsfiguur het wat, pleks van om as ’n baken van regverdigheid en geregtigheid te dien, in die modder van geslagsgeweld vasgeval het,” meen Makenna.
Van Niekerk sê die VF Plus bespiegel al geruime tyd of Visser wel in die munisipale gebied woon waarvan hy die burgemeester is. Hy is op Philipstown in Renosterberg se munisipale gebied in hegtenis geneem, wat die party se vermoedens versterk dat hy nie in sy eie munisipale gebied woon nie.
“Die VF Plus se mening is dat, indien Visser nie self bedank nie, Thembelihle se munisipale raad ’n buitengewone vergadering behoort te hou om hom te skors, hangende die verloop van die polisieondersoek.”