On Now
Weekdays 23:00 - 23:59
Overnight Oscar
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Central SA

Polisiesersant bly in aanhouding ná moord op vriendin

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:31 Mon, 06 Jan 2025

Polisiesersant bly in aanhouding ná moord op vriendin | News Article
Chesnay Patricia Keppler. Foto: Facebook

Die saak van ’n Gautengse polisiesersant wat daarvan beskuldig word dat hy na bewering sy meisie, ’n teenmisdaadbeampte, vermoor het, is tot 26 Februarie uitgestel.

Mandlenkosi Gladman Buthelezi (42) het Maandag (6/1) in die Protea-landdroshof in Soweto op aanklag van moord verskyn, sê Phaladi Shuping, woordvoerder van die polisie se onafhanklike ondersoekdirektoraat.

Chesnay Keppler (22) is Saterdag (4/1) begrawe nadat sy Donderdag (26/12) doodgeskiet is.

Keppler, ’n provinsiale misdaadbestryder, is na bewering wreed by haar huis vermoor deur Buthelezi, wat verbonde is aan die Eldoradopark-polisiekantoor suid van Johannesburg.

Skote deur kombuisvenster afgevuur

Na bewering het die verdagte ongenooid en onder die invloed van drank by Keppler se huis aangekom, waar hy haar buite die woning aangerand het. Keppler en nog ’n vrou het glo in die huis in gevlug.

Die verdagte het toe na bewering verskeie skote deur die kombuisvenster afgevuur en Keppler noodlottig gewond. Sy het later in die Chris Hani Baragwanath-hospitaal aan haar skietwonde beswyk.

Shuping het kort ná die voorval gesê Buthelezi het van die toneel af gevlug, en na bewering sy dienspistool op homself gedraai en ’n skoot afgevuur toe die polisie hom vastrek. Hy is Saterdag uit die hospitaal ontslaan en word van toe af in die Moroka-polisiekantoor aangehou.

’n Diens vir Keppler vind Saterdag plaas. Foto: Facebook

“Hy word nou van moord aangekla, maar nog aanklagte sal na verwagting teen hom gebring word,” het Shuping gesê. Dis nog onbekend of Buthelezi om borgtog sal aansoek doen.

“Die sinnelose moord op ’n teenmisdaadbeampte het die gemeenskap van Eldoradopark beroof van ’n onbaatsugtige en vreeslose dienaar van die mense,” het Panyaza Lesufi, Gautengse premier, gesê. “Sy was een van ons, en haar lewe is geneem deur iemand wat die gemeenskap vir beskerming vertrou het. Ons sal verseker dat die oortreder gestraf word.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.