Central SA
Verdagtes steeds soek ná moord op Vrystaatse polisiebeamptes─── CHARNÉ VAN DER MERWE 12:07 Mon, 06 Jan 2025
Geen verdagtes is nog in hegtenis geneem in verband met die moord op twee Vrystaatse polisiebeamptes nie.
Die polisiediens is “diep bedroef en woedend oor die wrede moord” op die twee beamptes, wat in die uitvoering van hul pligte vermoor is, sê lt.genl. Baile Motswenyane, Vrystaatse polisiekommissaris.
Die twee is Saterdagaand (4/1) in Namahadi, Qwaqwa, doodgeskiet.
Volgens voorlopige verslae het twee lede van die Namahadi-gemeenskapsdienssentrum omstreeks 22:00 gereageer op ’n huisroof in Mangaung Village. Hulle is vergesel van drie lede van die misdaadvoorkomingseenheid wat in ’n aparte voertuig gery het.
Dienspistool afgevat
Met hul aankoms het twee verdagtes uit die huis gevlug, en lede van die misdaadvoorkomingseenheid het hulle agternagesit. Intussen het die twee polisiebeamptes die huis genader, waar ’n verdagte na vore gekom en op hulle losgebrand het. ’n Beampte is noodlottig gewond, en die verdagte het die beampte se dienspistool afgevat.
“Tydens die agtervolging het ’n ander verdagte die bestuurder van die ondersteuningsvoertuig ingewag toe hy agteruitry. Die beampte is in die nek geskiet en het aan sy beserings beswyk. Die ander lede in die voertuig is ongedeerd,” lui die polisieverklaring.
Die verdagtes, wat klapmusse gedra het, het volgens die verklaring ook twee selfone en ’n onbekende bedrag kontant uit die huis gesteel.
Naasbestaandes word eers in kennis gestel
Die verdagtes bly op vrye voet en ’n ondersoek duur voort. Die identiteite van die oorlede beamptes sal bekendgemaak word sodra hul naasbestaandes in kennis gestel is.
“Namens die SA Polisiediens betuig ons ons innige meegevoel met die families, kollegas en geliefdes van die twee konstabels. Hul opofferings vir diens aan hul gemeenskap sal nooit vergeet word nie,” sê Motswenyane.
Bel Stop Misdaad met inligting oor die voorval by 08600 10111.
OFM Nuus cg