Central SA
Saak ná aanranding van Orkney-oordeienaar weer uitgestel─── CHARNÉ VAN DER MERWE 13:22 Fri, 03 Jan 2025
Die drie mans wat van poging tot moord aangekla word ná die aanranding van ’n Orkney-dagoordeienaar se saak is vir ’n borgverhoor uitgestel.
Hanyane Ronauld Mei (47), Danile Nxamakele (35) en Pitso Radebe (47) het Vrydag (3/2) hul derde hofverskyning in die Orkney-landdroshof gemaak sedert hulle hulle op Kersdag aan die polisie oorgegee het.
Die saak is egter weer uitgestel, tot Dinsdag (7/1), wanneer die drietal om borg aansoek sal doen, sê Adéle Myburgh, Noordwes-polisiewoordvoerder.
Hanscombe’s Haven het ’n swembad, dam, rivier, kinderpark, snoepwinkel, braaiplekke, kroeg en ander geriewe. Foto: Facebook
Die hofsaak spruit uit ’n voorval op 16 Desember, Versoeningsdag, toe die mans na bewering vir Marc Hanscombe (53) aangeval het nadat hy ’n groep besoekers beveel het om Hanscombe's Haven te verlaat.
OFM Nuus het vroeër berig die groep is herhaaldelik gewaarsku oor die onwettige gebruik van ’n waterpyp op die perseel.
Die situasie het handuit geruk toe ’n woordewisseling ontstaan en die eienaar glo aangerand is en verskeie kere met ’n skerp voorwerp gesteek is. Ná die aanval is Hanscombe na die hospitaal gehaas, waar hy in die waakeenheid gebly het tot met sy ontslag op 23 Desember.
Marc Hanscombe van Hanscombe’s Haven by Orkney. Foto: Facebook/Marc Hanscombe
In die nasleep van die aanranding het vier mense wat met die beskuldigdes verbind word, aanrandingsklagte teen Hanscombe ingedien, ’n stap wat vinnig gevolg is deur ’n soortgelyke aanklag van Hanscombe se seun.
’n Video van die onderonsie, wat wys hoe die slagoffer deur die groep aangeval word, het vinnig op sosiale media versprei, wat olie op die vuur was van die publieke herrie.
Die polisie waarsku die publiek om nie onbevestigde inligting aanlyn te deel nie, aangesien dit die ondersoekproses kan belemmer.