Central SA
Verdagtes steeds soek ná moord op Noord-Kaapse winkeleienaar─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:53 Fri, 03 Jan 2025
Niemand is nog in hegtenis geneem nie ná die moord op ’n winkeleienaar in die Noord-Kaap.
Die polisie op Kathu ondersoek ’n moordsaak nadat Ariful Rahaman Mati (37) doodgeskiet is, sê kol. Cherelle Ehlers, polisiewoordvoerder. “Mati, oorspronklik van Bangladesj, is Dinsdag (31/12) omstreeks 13:30 in sy vragmotor by ’n vulstasie aan die N14 op Kathu geskiet.”
Iemand het die polisie laat weet van ’n vragmotor wat langs die pad geparkeer was. “Met die polisie se aankoms op die toneel, het hulle Mati in die bestuursitplek met ’n skietwond aan sy kop gevind.”
Tweede moord binne drie maande
Mati het nog geleef toe nooddienste opdaag, maar later in die hospitaal beswyk.
“Die motief vir die moord bly onbekend en word ondersoek. Dit is ook onduidelik of enigiets uit Mati se vragmotor gesteel is,” sê Ehlers.
Dit is die tweede moord op ’n Bangladesji op Kathu binne drie maande. Op 8 Oktober is Mohammed Ferazi (31), ’n werknemer van ’n plaaslike kafee, wreed in die winkel doodgeslaan.
Mohammed Ferazi (31). Foto verskaf
Ferazi was omstreeks 12:45 alleen in die kafee in Cedarlaan toe twee onbekende mans inkom en hom aanval, het lt.kol. Sergio Kock, provinsiale polisiewoordvoerder, gesê. Ferazi het noodlottige beserings opgedoen en die winkel is beroof voor die aanvallers hulle uit die voete gemaak het.
’n Video van die voorval, wat wyd op sosiale media versprei is, wys hoe Ferazi die winkelvloer vee voordat hy die veiligheidshek oopsluit om die twee mans binne te laat. Toe hy terug in die winkel in loop, word hy van agter geslaan en aan die regterkant van sy kop getref. Ferazi sak op die grond neer en kreun van pyn.
Verdagtes in hegtenis
Een van die verdagtes gaan agter die toonbank in, oënskynlik op soek na waardevolle items, voordat hy die sekuriteitskamera verstel om na die muur te wys.
Twee verdagtes (21 en 41) is kort ná die voorval in hegtenis geneem.
Die polisie doen ’n beroep op enigiemand met inligting oor Mati se moord om konst. Tshireletso Leburu by 079 481 9501 te nader. Alle inligting sal vertroulik hanteer word.
OFM Nuus cg