Central SA
Volop kos ondergronds, sê myner ná arres in Vrystaat─── CHARNÉ VAN DER MERWE 12:58 Thu, 02 Jan 2025
Talle buitelanders sal binnekort voor die hof verskyn nadat hulle in verskeie voorvalle in die Vrystaat in hegtenis geneem is. Hulle het na bewering staatsminerale onwettig ontgin en ander wette oortree.
’n Verdagte beweer kos is steeds volop en word ondergronds onderling onder onwettige mynwerkers verkoop.
’n Samewerkingspoging tussen die polisie se Vala Umgodi-span en ’n private sekuriteitsmaatskappy het daartoe gelei dat drie buitelanders in hegtenis geneem is omdat hulle na bewering staatsminerale onwettig ontgin het in die Kopanong-myn, op die grens tussen die Vrystaat en Noordwes.
Een van die verdagtes. Foto verskaf
“Die eerste verdagte (42) is betrap met 18,86 kg gouddraende amalgaam en smokkelware,” sê lt.kol. Thabo Covane, Vrystaatse polisiewoordvoerder. Die man beweer zama-zamas het ondergronds met gouddraende stof vir sy smokkelware “betaal”.
Die tweede buitelander (32) is in hegtenis geneem met gouddraende amalgaam van 1,99 kg. Volgens dié verdagte is talle zama-zamas steeds besig met onwettige mynbedrywighede in drie aanlegte waarvan hy weet. ’n Derde man (47) is met 2 kg gouddraende amalgaam aangekeer.
Een van die verdagtes. Foto verskaf
Covane sê drie afsonderlike dossiere van poging tot diefstal van staatsminerale, betreding, oortreding van die Wet op Myngesondheid en -veiligheid en oortreding van die Immigrasiewet is geopen.
Verskeie operasies is uitgevoer op brandpunte en probleemplekke, waar ’n man (30) in ’n oop veld naby Hanipark in Bronville, Welkom, in hegtenis geneem is. Die verdagte was na bewering besig met onwettige mynbedrywighede. Gouddraende stof van 48,36 kg is in sy besit gevind, waarop beamptes beslag gelê het.
Die tweede man (27) is ook in Hanipark in hegtenis geneem. Hy is betrap met 28,46 kg gouddraende stof. Sake van besit van vermoedelik gouddraende stof is by die Bronville-polisiekantoor geopen.
Nog ’n verdagte wat sy rieme styf geloop het. Foto verskaf
Operasie Vala Umgodi is in Welkom voortgesit waar nog ’n man (36) in ’n oopgroef naby Phomolong aangekeer is waar hy na bewering met onwettige mynaktiwiteite bedrywig was. Beslag is gelê op 25,16 kg gouddraende stof.
Patrollies is ook op Allanridge gehou. ’n Buitelander (30) is betrap waar hy na bewering gouddraende stof op ’n tydelike hellingstafel by die rotsstortplek langs die dam verwerk het. Die polisie het beslag gelê op 12,3 kg gouddraende stof.
’n Dossier van die besit van vermoedelik gouddraende materiaal, met ’n bykomende klag van oortreding van die Immigrasiewet, is onderskeidelik by die polisiekantore op Welkom en Allanridge geopen.
OFM Nuus cg