Central SA
Liggaam van jong man gevind ná boot-ongeluk, vriend sterf ook─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:42 Thu, 02 Jan 2025
Die liggaam van ’n man wat vermis was nadat ’n boot op ’n gewilde Vrystaatse dam omgeslaan het, is gevind.
Wat in die oujaar as ’n damuitstappie vir twee vriende en twee susters begin het, het in ’n tragedie geëindig toe Ricus Gericke (24) en JP Bertram (23) in die Aldam-oord, tussen Winburg en Ventersburg, verdrink het.
Die twee susters, Simoné (20) en Anja Visser (22), het die voorval oorleef. Gericke was in ’n verhouding met Simoné en Bertram met Anja.
JP Bertram en Anja Visser. Foto: Facebook
Die polisie is Maandag (30/12) omstreeks 14:45 van die voorval in kennis gestel. Gericke se liggaam is omstreeks 18:30 uit die dam gehaal.
OFM Nuus het vroeër berig Gericke het in die boot se motor verstrengel geraak en ernstige beserings opgedoen voor hy verdrink het.
Bertram is as vermis aangemeld. Weens swak sigbaarheid moes polisieduikers hul soektog Maandagaand aflas. Sy liggaam is Woensdag (1/1) omstreeks 06:30 gevind, volgens ao. Peter Kareli, provinsiale polisiewoordvoerder.
Ricus Gericke en Simoné Visser. Foto: Facebook
’n Bron, wat naamloos wou bly, het Dinsdag (1/1) gesê die ouers van albei oorlede mans is erg getraumatiseerd en wou nie met die media praat nie.
Gericke word oorleef deur sy ouers, Johan en Maralize, en sy suster, Charnéy. Bertram word oorleef deur sy ouers, Fred en Annatjie, en sy broer, Dirk.
Bethlehem Voortrekker Hoërskool, waar Bertram in 2019 gematrikuleer het, het ’n boodskap van medelye op Facebook gedeel.
Die skool het bevestig dat begrafnisreëlings nog nie gefinaliseer is nie.