Central SA
Rowers steeds soek nadat geldwa in Noordwes uitbrand─── CHARNÉ VAN DER MERWE 08:56 Thu, 02 Jan 2025
Die transitorowers wat ’n dramatiese rooftog in Noordwes uitgevoer het, is steeds op vrye voet.
Noordwes-polisie soek steeds na ’n groep transitorowers wat Dinsdag (31/12) toegeslaan het op ’n geldwa in Letsheng, sowat 50 km noord van Rustenburg, sê lt.kol. Sam Tselanyane, provinsiale polisiewoordvoerder. Die rowers het op die vlug geslaan met ’n onbekende bedrag kontant.
Die bestuurder van die geldwa, wat saam met twee wagte van Moruleng na Mogwase onderweg was, wou vroegaand oor ’n spoedhobbel in Letsheng ry, toe ’n Mercedes-Benz van die kant af nader kom en die pad versper.
’n Groep swaargewapende mans het te voorskyn gekom en losgebrand op die veiligheidsvoertuig, wat die geldwa vergesel het, en dit gedwing om stil te hou, sê Tselanyane. Die aanvallers het toe die twee wagte in die geldwa genader, hulle uit die voertuig gedwing en hul vuurwapens afgeneem.
Pad met BMW versper
Die rowers het ’n ploftoestel gebruik om by die kontantwa in te breek en ’n onbekende bedrag geld te steel, sê Tselanyane. “Tydens die chaos het die geldwa en die Mercedes-Benz aan die brand geslaan en die oorblywende kontant in die bakkie vernietig.”
’n BMW is gebruik om motoriste voor te keer en die pad te versper terwyl die rooftog aan die gang was. Die rowers het in verskeie voertuie gevlug, waaronder die BMW, ’n wit Toyota Fortuner en ’n wit Ford Ranger-bakkie.
Ondanks die geweld en vernietiging is niemand beseer nie, sê Tselanyane. Die polisieondersoek duur voort.
OFM Nuus cg