Central SA
Stilfontein: Hoogste hof genader om regeringshulp aan zama-zamas af te dwing─── KAREN VAN DER BERG 12:36 Tue, 31 Dec 2024
’n Gemeenskapsorganisasie, wat mense bystaan wat deur mynbou geraak word, vaar in ’n sterk bewoorde verklaring uit teen wat hy beskou as die regering se versuim om hulp te verleen aan honderde of selfs duisende zama-zamas.
Mining Affected Communities United in Action (Macua) ontferm hom oor die onbekende aantal zama-zamas wat blykbaar steeds sonder kos en water in die Buffelsfontein-myn op Stilfontein vasgekeer is of, volgens sommige waarnemers, eenvoudig weier om boontoe te kom.
Die organisasie het Maandag (30/12) die konstitusionele hof genader om daadwerklik in te gryp en die regering te dwing om hulp aan die onwettige goudmynwerkers in uitgediende mynskagte te verleen.
Macua eis nou dat die hoogste hof die regering verplig om daadwerklike hulp aan hulle te bied nadat die hooggeregshof in Pretoria op 20 Desember ’n soortgelyke aansoek van die hand gewys het.
’n Lugfoto van die verlate myn. Foto: Argieffoto: GroundUp/Ihsaan Haffejee
Hy verkwalik die Buffelsfontein-goudmyn en die betrokke staatsdepartemente se versuim om die myn behoorlik te sluit vir die weke lange drama op én onder dié gewese myndorp in Noordwes.
Volgens hom is die polisie se Operasie Vala Umgodi die verkeerde benadering tot die krisis want dit het gelei tot die dood van tientalle zama-zamas en kan nog honderde se lewe eis weens hongersnood ondergronds. Die hof het wel vroeër beslis dat lede van die gemeenskap noodleniging aan die zama-zamas mag bied.
Luidens die verklaring van Macua het hy meermale gewaarsku die regering moet daadwerklik optree om die vasgekeerdes te help. “Die jongste nuus dui daarop die situasie vir die zama-zamas het aansienlik versleg.” Dis so erg dat sommige van die zama-zamas glo die liggame van gestorwenes eet om te oorleef.
“Met alle respek glo ons die regter (van die hooggeregshof) het ’n fout gemaak in haar besluit om die regering kwyt te skeld van sy verantwoordelikhede en die zama-zamas te red,” meen Macua.
Die polisie tref maatreëls om nog onwettige aktiwiteite hok te slaan, het lt.genl. Tebello Mosikili, woordvoerder van die nasionale gesamentlike operasionele en intelligensiestruktuur, vroeër gesê. Plekke is aangewys waar hulle veilig na die oppervlak kan kom en menswaardige behandeling ontvang. Daarna moet die reg wel sy beloop neem.
Die gat is byna 2 km diep. Foto: Argieffoto: GroundUp/Kimon de Greef
Intussen sê kol. Adele Myburgh, Noordwes-polisiewoordvoerder, Maandag (30/12) het nog ses zama-zamas boontoe gekom. Verlede week was dit 60. Dit beteken altesaam 1 550 mynwerkers het van 18 Augustus tot Oujaarsdag te voorskyn gekom. Myburgh sê die meeste kom van Mosambiek, gevolg deur Zimbabwe en Lesotho. Sleg enkeles is Suid-Afrikaners.
OFM Nuus/Karen van der Berg