On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Anny
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico
Listen Live Streams

Central SA

Onderwyseres hoop kat kom weer ná ongeluk naby Calvinia

───   KAREN VAN DER BERG 11:45 Tue, 31 Dec 2024

Onderwyseres hoop kat kom weer ná ongeluk naby Calvinia | News Article
Ronel Kennedy en haar kat, Lenie Blou. Foto verskaf

Die kat kom weer, lui die Afrikaanse gesegde na aanleiding van ’n volksliedjie oor iets of iemand wat onverwags hul herverskyning maak.

Dis waarop die eienaar van ’n ses maande oue kat hoop nadat dié twee weke gelede vermis geraak het ná ’n ongeluk in die Noord-Kaap.

Ronel Kennedy (25), ’n onderwyseres, en haar kat, Lenie Blou, was op 14 Desember van Clanwilliam op pad na haar ouers, Johan en Johette, op Lime Acres toe die ongeluk sowat 50 km anderkant Calvinia op die R27 gebeur.

Ronel kuier nog by haar ouers in die Kalahari, sowat 600 km vanaf die ongelukstoneel wat die soektog na Lenie Blou bemoeilik. Dit maak haar soms moedeloos, sê sy.

Lenie Blou. Foto verskaf

“Maar ek het wel nog hoop dat sy gevind sal word. Wanneer ek moedeloos raak help dit vir my om met die Here te praat. As dit sy wil is, sal Lenie Blou gevind word.” Maar sy bid ook vir berusting as dit nie gebeur nie.

Die hulp en ondersteuning uit die gemeenskap het haar oorweldig. “Dit het my gewys daar bestaan nog soveel goeie mense.”

Sy sê motoriste het stilgehou en haar gehelp. Een vragmotorbestuurder het by haar gebly tot sy veilig hospitaal toe is. “Daar is soveel vreemdelinge uit verskillende oorde, selfs uit verskillende provinsies, wat net help. Dit is vir my wonderlik.”

Lenie Blou het ná ’n ongeluk weggeraak. Foto verskaf

Ronel sê haar kat is genoem na ’n liedjie met dieselfde titel van haar gunstelingmusiekgroep, Spoegwolf.

Sy sê die dag van die ongeluk was sy op pad na haar ouerhuis. “Lenie Blou was in haar spesiale stoeltjie vasgemaak, maar sy het op ’n manier losgekom. Ek het haar van die paneelbord afgehaal en wou stilhou om haar weer vas te maak.”

Die volgende oomblik het die motorbande die gruis langs die pad getref en haar beheer oor die motor laat verloor. “Ek het darem nie ’n hoë spoed gery nie. Die kar het op sy regtersy bo op ’n klip beland.” Dit het ’n gat in die ruit aan die bestuurderskant veroorsaak.

Enigeen wat weet waar Lenie Blou is, kan haar eienaar bel. Foto verskaf

Ronel en Lenie Blou was ongedeerd. “Ek het haar ná die ongeluk vasgehou. Ek dink sy was erg getraumatiseerd.” In haar geskokte toestand het haar viervoetige maatjie haar losgewikkel, deur die gat in die venster geklim en die veld in gehardloop.

Ronel was sowat vyf minute in die motor vasgekeer voor verbygangers stilgehou en haar uitgehelp het. Almal op die toneel het na Lenie Blou begin soek. Sedertdien word daar onverpoos na haar gesoek, onder meer deur ’n soekgeselskap met ’n snuffelhond.

Ronel sê daar is ook kos en water by die toneel uitgesit, en sy het haar sitplekoortreksels op die toneel gelos sodat Lenie Blou haar kan ruik.

Die katjie het groot geskrik en in die veld in gehardloop. Foto verskaf

Sy doen ’n beroep op mense wat op die R27 tussen Brandvlei en Calvinia reis, om te help kyk of hulle Lenie Blou kan opspoor. Dit is haar grootste wens vir die nuwe jaar.

Enigiemand met inligting kan haar by 076 792 0878 bel.

OFM Nuus/Karen van der Berg dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.