On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Stilfontein: Meer as 50 zama-zamas Maandag in hof

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 08:18 Sun, 29 Dec 2024

Stilfontein: Meer as 50 zama-zamas Maandag in hof | News Article
Die polisie het beslag gelê op ongelisensieerde vuurwapens. Foto verskaf

Nagenoeg 50 zama-zamas wat in minder as ’n week in Noordwes in hegtenis geneem is, sal Maandag (30/12) in die landdroshof verskyn.

Van Maandag (23/12) tot Saterdag (28/12) is 47 zama-zamas op aanklagte van onwettige mynaktiwiteite en die oortreding van die Wet op Immigrasie, Wet 13 van 2002 in hegtenis geneem, sê kol. Adéle Myburgh, Noordwes- polisiewoordvoerder.

Tien zama-zamas het Vrydag (27/12) by die Margaretskag in Stilfontein na die oppervlak gekom en in die vroeë oggendure elf by die Buffelsfonteinskag. Sy sê ondersoeke is aan die gang en Operasie Vala Umgodi sal vir die laaste drie dae van die feestyd voortduur.

Intussen is ses vermeende zama-zamas Vrydag (27/12) in Riverlea en Langlaagte in Johannesburg ná ’n skietgeveg met die polisie in hegtenis geneem. Dié verdagtes sal ook Maandag (30/12) in die hof verskyn.

Die polisie het op die ongelisensieerde vuurwapens beslag gelê. Foto verskaf

Volgens Arrive Alive het die polisie inligting ontvang oor onwettige mynaktiwiteite in Riverlea. Lede van die nasionale ingrypingseenheid het toe met ’n soektog na die verdagtes begin.

Met die polisie se aankoms het hulle gereedskap ontdek wat vir onwettige mynaktiwiteite gebruik word. Die verdagtes het op hulle losgebrand wat tot die skietgeveg gelei het.

‘Nog vier verdagtes is later aangekeer’

Twee verdagtes is op die toneel in hegtenis geneem vir die besit van ongelisensieerde vuurwapens, magasyne en ammunisie. Nog vier verdagtes is later in die gebied aangekeer.

Die ses verdagtes staan tereg op aanklagte van die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie, poging tot moord en onwettige mynaktiwiteite. Daar is ook vasgestel dat al ses verdagtes onwettig in die land is.

OFM Nuus dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.