Central SA
Sentraal-Suid-Afrikaners hoop, voorspoed en veiligheid toegewens vir 2025─── KAREN VAN DER BERG 11:12 Tue, 31 Dec 2024
In ’n wêreld waar die toekoms duister lyk is dit ons verantwoordelikheid om altyd hoop te gee.
“Ons moet hoop skep in ’n wêreld waar dit regtig soms moedeloos lyk,” sê Jan van Niekerk, Vrystaatse VF Plus-leier, oor die jaar wat voorlê. “Ons mag nooit dat die hoop beskaam nie.”
Al gaan dit soms swaar, moet Suid-Afrikaners moed hou. “Ons moet bly druk uitoefen om toe te sien dat hierdie provinsie nooit verval tot ’n provinsie wat nie herskep kan word nie.”
Jan van Niekerk. Foto verskaf
Die Vrystaat is die kosmandjie van Suid-Afrika. “Ons moet vir die res van die land kos voorsien. Ons het ’n groot verantwoordelikheid om elke geleentheid in ons provinsie te gebruik.”
Hy sê sy party en elke inwoner moet dié geleenthede gaan soek en skep “vir ons mense om veilig te bly in die Vrystaat en ook in Suid-Afrika, waar daar altyd ’n plek vir alle mense moet wees”.
Dr. Roy Jankielsohn. Foto: Facebook
Dr. Roy Jankielsohn, Vrystaatse DA-leier, beklemtoon ook hoop in sy Nuwejaarswense vir inwoners. “Die DA wil ons beste wense aan alle inwoners van die Vrystaat oordra. Ons hoop dat 2025 nuwe hoop, vooruitgang en positiewe verandering in die lewe van ons mense in die provinsie sal bewerkstellig.”
Hy sê menses moet saam aanhou bou aan ’n inklusiewe Vrystaat. “Die provinsie moet een wees wat gegrond is in geleenthede, verbeterde dienslewering en verantwoordbaarheid.”
Jankielsohn sê die vasberadenheid van inwoners gee inspirasie. “Kom ons maak 2025 ’n jaar van vooruitgang, eenheid en vooruitstrewendheid vir al ons mense.”
Chris van Beljon. Foto verskaf
Chris van Beljon, stigter van Bring Hoop SA, maak Sentraal-Suid-Afrikaners in sy wense bewus van elkeen se belangrike rol. “Soos ons nou aan die einde van die een jaar en die begin van ’n nuwe jaar staan wil ek jou vra of jy regtig weet hoe nodig die wêreld jou het.”
Hy sê mense moet besef hulle hou “die sade van hoop” in hul handpalm vas. “Al wat jy moet doen, is om jou hand oop te maak en dit te plant. Ek hoop in 2025 word jou drome waar en het jy die geleentheid om hoop te plant.”
OFM Nuus/Karen van der Berg dg