On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Noordwes-ouetehuis se krag ná maand herstel

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:20 Mon, 02 Dec 2024

Noordwes-ouetehuis se krag ná maand herstel | News Article
Die ouetehuis. Foto verskaf

Die kragtoevoer na die Sonop-nedersetting in Noordwes is ná meer as ’n maand herstel.

OFM Nuus het vroeër berig die ouetehuis in Brits staar ernstige bedryfsuitdagings in die gesig nadat sy kragtoevoer afgesny is weens die departement van openbare werke se uitstaande Eskom-skuld.

Die instansie, wat dien as ’n tehuis vir ongeveer 300 huishoudings, saam met ’n ouetehuis, ’n kinderhuis en twee laerskole, se elektrisiteitstoevoer is op Vrydag (29/11) herstel.

Ná 33 dae van voortgesette onderhandelinge tussen die departement van openbare werke en Eskom, was daar steeds geen amptelike oplossing vir die saak nie, sê Elsa Lourens, VF Plus raadslid

“Ek het op Woensdag (27/11) ’n brief aan (Noordwes-VF Plus-leier) Michal Groenewald gestuur. Hy het dit toe aan die premier, Lazarus Mokgosi, deurgestuur. Die volgende dag het onderhandelinge tussen Eskom en die departement van openbare werke in Noordwes plaasgevind het, wat ’n deurslaggewende rol gespeel het om die kwessie uiteindelik op te los.”


Lourens was die afgelope maand aktief betrokke om die geaffekteerde inwoners by te staan. Sy het onder meer hout en kerse afgelewer om inwoners te help om basiese huishoudelike take uit te voer en te vermy om in die donker te sit. 

“In die aande kon slegs noodsaaklike take soos klere was en kosmaak gedoen word terwyl die kragopwekker aan die gang was. Vir ander nodige aktiwiteite wat buite op ’n vuur gedoen is, het inwoners soveel hout ingesamel as wat hulle kon kry,” sê Lourens.

Uitstaande rekening R11,3 miljoen

Eskom het die kragtoevoer na Sonop afgesny omdat die departement van openbare werke meer as R11 miljoen agterstallig was. Sonop en die nabygeleë township Khalanyoni is uniek in Suid-Afrika omdat die grond waarop dit geleë is, aan die departement van openbare werke behoort.

Volgens Lourens beteken dit die departement, nie die Madibeng-munisipaliteit nie, is verantwoordelik vir die Eskom-rekening. Die kragvoorsiener het bevestig dat die krag op 25 Oktober ontkoppel is, nadat die uitstaande rekening R11,3 miljoen bereik het.

Die VF Plus het reeds op 7 November ingetree om ’n afvaardiging van die Sonop-gemeenskap by te staan en onderhandelinge met Noordwes se departement van openbare werke en paaie moontlik te maak om krag na die gebied te herstel.

Voorheen agt weke sonder krag

“Moses Kgantsi, die hoof van die departement van openbare werke en paaie in Noordwes, het met ons en die inwoners gepraat,” sê Lourens. Hy het die gemeenskap verseker dat sy departement die Eskom-rekening teen 12 November sou vereffen om die kragtoevoer te herstel.

Volgens Lourens is dit nie die eerste keer dat die gemeenskap so swaarkry nie. “In 2015 was die gebied agt weke sonder krag weens ’n soortgelyke Eskom-skuldkwessie. (Destyds) het Lonmin-myn ingespring en sowat R50 000 se blikkieskos geskenk om uit te deel aan die inwoners wat sonder krag was.”

Lourens is bekommerd oor die voortdurende uitdagings wat die Sonop-gemeenskap die hoof moet bied. Hulle het jare lank gely weens die onsekerheid oor watter staatsinstelling vir dienste verantwoordelik is. Dit lei dikwels tot diensontwrigting, aangesien verskeie vlakke van regering mekaar verkwalik vir die afname in dienslewering.

OFM Nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.