On Now
Weekdays 23:00 - 23:59
Overnight Oscar
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Central SA

Vrystaatse swembaddens se sluitings dwing kinders na lewensgevaarlike water

───   HEIDRÈ MALGAS 14:21 Thu, 28 Nov 2024

Vrystaatse swembaddens se sluitings dwing kinders na lewensgevaarlike water | News Article
Arthur Nathan swembad in Bloemfontein. Foto verskaf

Talle Vrystaatse kinders wat dié somer lafenis van die hitte soek, word gedwing om op gevaarlike plekke te swem omdat openbare swembaddens nie in stand gehou word nie.

’n Seun van Thaba Nchu het blykbaar naby die Sekondêre Skool Albert Moroka verdrink , berig Free State World. Die tiener het na bewering verdrink terwyl hy saam met ’n groep seuns in ’n pan geswem het.

“In die Vrystaat is die meeste openbare swembaddens gesluit en onbruikbaar weens swak bestuur deur ANC-beheerde munisipaliteite,” sê DA-wetgewerlid Werner Pretorius, woordvoerder oor sport, kuns, kultuur en ontspanning. “Dit raak veral kinders en gemeenskappe gedurende die warm Desembervakansie. 

“Die geslote en verwaarloosde swembaddens lei tot ’n tekort aan veilige ontspanningsgeriewe, wat belangrik is vir jeugontwikkeling en die bevordering van maatskaplike samehorigheid.”

Die DA dring daarop aan dat die Vrystaatse regering aanspreeklikheid aanvaar en swembaddens beter onderhou sodat inwoners toegang tot goeie ontspanningsgeriewe kan hê.

Die volgende openbare swembaddens is gesluit: Dewetsdorp, Bakenpark, Bethlehem, Bethulie, Bloemfontein, Botshabelo, Bultfontein, Edenburg, Excelsior, Ficksburg, Frankfort, Gariepdam, Harrismith, Hobhouse, Jagersfontein, Koppies, Madikgetla, Marquard, Parys, Petrusburg, Reitz, Tweeling, Vrede, Wepener en Winburg.

OFM Nuus het voorheen berig oor die Heidedal-swembad wat weens gebrekkige instandhouding in onbruik verval het. Die berig is Maandag 18 November gepubliseer, en ’n week later is die swembad skoongemaak.

Attie Terblance, DA-raadslid vir wyk 16, vra Mangaung-burgemeester Gregory Nthatisi moet die toegangsgeld vir dié swembad verlaag, omdat baie kinders en volwassenes die koste van onderskeidelik R21 en R36 nie kan bekostig nie.

“Selfs al word die pryse net tydens die vakansie verminder, sal dit baie help, want die kinders swem steeds in die gruisgroef agter Twin City in Heidedal omdat hulle die toegangsgeld nie kan bekostig nie.”

Kinders word gedwing om elders te swem as hulle nie die R21 kan bybring nie, sê hy. Talle soek lafenis in gevaarlike gruisgroewe met dikwels noodlotttige gevolge.

OFM Nuus/Heidrè Malgas cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.