Central SA
Zama-zamas kan vrylik in myntonnels onder Stilfontein beweeg─── KAREN VAN DER BERG 10:09 Mon, 30 Dec 2024
Onwettige myners in die Buffelsfontein-myn op Stilfontein wat self uit die mynskag kom wys die zama-zamas mag onafhanklik in die ondergrondse tonnels rondbeweeg.
“Hul vertraagde reaksie om uit die tonnels te kom lyk na ’n strategie om inhegtenisnemings te ontwyk,” sê die nasionale gesamentlike operasionele en intelligensiestruktuur (Natjoints) in ’n verklaring wat Sondag (29/12) uitgereik is.
Mense moenie valse inligting oor die situasie by Stilfontein versprei nie, sê lt.genl. Tebello Mosikili, Natjoints-woordvoerder. “Die polisie het maatreëls ingestel om verdere onwettige aktiwiteite hok te slaan.
“Plekke is aangewys waar die myners veilig boontoe kan kom en menswaardige behandeling ontvang. Daarna moet die reg sy beloop neem.”
Volgens haar word die zama-zamas daagliks van kos voorsien . “Dit is onwaar dat hulle nie kos kry nie. Die hof het beslis dat die regering moet toelaat dat kos verskaf word. Ons kan nie dat die regering deur die zama-zamas gevange gehou word nie. Daar word hard gewerk om die onwettige myners uit te kry.”
Altesaam 47 zama-zamas het in die week tot Sondag uit die mynskag gekom. Hulle is op aanklagte van onwettige mynaktiwiteite en die oortreding van die Wet op Immigrasie in hegtenis geneem. Dié getal sal na verwagting styg.
Intussen werk wetstoepassers onverpoos aan die voorkoming van onwettige mynbedrywighede op Kleinzee aan die Namakwalandse kus. Die polisie se Vala Umgodi-taakspanne wat saam met die weermag werk, het die naweek 15 onwettige zama-zamas (tussen 40 en 49 jaar) in hegtenis geneem.
Die taakspan het Vrydag (27/12) op ’n informele nedersetting toegeslaan nadat hulle inligting ontvang het oor onwettige immigrante, sê sers. Molefi Shemane, Noord-Kaapse polisiewoordvoerder. “Beamptes het afgekom op twee stukke gereedskap wat in onwettige mynbedrywighede gebruik word.”
’n Suid-Afrikaner (20) is in hegtenis geneem nadat vermoedelik ongeslypte diamante in sy besit gevind is.
OFM Nuus/Karen van der Berg dg