Central SA
Man van Coligny steek glo eksmeisie 15 keer met skerp voorwerp─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:29 Sun, 29 Dec 2024
’n Man van Noordwes sal Maandag (30/12) weer in die hof verskyn in verband met die moord op sy eksmeisie.
Petrus Bassion Mvala (47) het Vrydag (27/12) die eerste keer in die Lichtenburgse landdroshof verskyn vir die moord op sy eksmeisie Binny King (34), sê kol. Adéle Myburgh, Noordwes-polisiewoordvoerder. Mvala is Dinsdag (24/12) deur die polisie in Coligny in hegtenis geneem.
“Mvala het King glo na sy voertuig geroep waar hy in Uitbreiding 3, Tlhabologang, naby Coligny gesit het. Hy het haar toe na bewering met ’n skerp voorwerp begin steek.” Sy het meer as 15 steekwonde opgedoen.
“King het daarin geslaag om uit die voertuig te spring en is kort ná haar aankoms by die hospitaal dood verklaar.”
Meermale geskiet
In ’n afsonderlike voorval van geslagsgeweld sal ’n polisiesersant wat van moord op sy meisie beskuldig word, ook Maandag in die landdroshof verskyn.
Chesnay Patricia Keppler (22), ’n teenmisdaadbeampte, is Donderdag verskeie kere deur haar kombuisvenster in Eldoradopark in Gauteng geskiet. Sy is later in die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Johannesburg dood.
Chesnay Patricia Keppler is glo deur haar kêrel vermoor. Foto Facebook
Die verdagte (42), ’n polisiebeampte verbonde aan die Eldoradopark-polisiekantoor, het na bewering dronk by Keppler se huis opgedaag.
“Na bewering het die verdagte Keppler voorheen fisiek mishandel en was hy by korrupte aktiwiteite betrokke,” sê Dereleen James, ActionSA-LP. “Hierdie afgryslike daad, vererger deur bewerings van voortdurende mishandeling en korrupsie, ontbloot die krisis binne die polisie.
“Dit is onaanvaarbaar dat so ’n individu in diens van die polisie bly.”
OFM Nuus dg