On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Christiana, een van talle dorpe wat raadop is weens kragprobleme

───   KAREN VAN DER BERG 14:17 Wed, 27 Nov 2024

Christiana, een van talle dorpe wat raadop is weens kragprobleme | News Article
Verskillende kragprobleme veroorsaak voortdurende kragonderbrekings op Christiana. Foto verskaf

Krane wat weke lank dolleeg is en krag wat nie behoorlik voorsien kan word nie weens instandhouding wat nie plaasvind nie, is maar die storie van plattelandse dorpe.

Tog is dit uitdagend om op een van die plattelandse dorpe te woon, sê Theo Gerber, DA-raadslid van Christiana. Dié dorp in Noordwes gaan reeds weke gebuk onder erge kragonderbrekings wat soms dae lank duur. Dit veroorsaak weer dat die dorp nie water het nie.

“Daar is baie redes waarom daar kragprobleme hier is,” sê hy. Die vernaamstes is diefstal van kragkabels en ’n interne stelsel wat oud geraak het weens geen instandhouding die laaste jare nie.”

Dit veroorsaak dat die dorp – of groot gedeeltes daarvan – telkens tydens weerlig sonder krag sit. Dit duur elke keer ’n paar dae om dit reg te stel.

Die interne stelsel is verouderd weens geen instandhouding die laaste jare nie. Foto verskaf

Hy sê beurtkrag en weerlig het groot skade aan die kragstelsel veroorsaak. Die gebrek aan onderhoud en die stelsel se ouderdom maak die probleme soveel erger.

Gerber sê dit is die probleme in breë trekke. “Die probleem lê dieper en gaan ook gepaard met die plaaslike munisipaliteit hier, wat Eskom miljoene rande skuld.”

Voorts sê hy die plaaslike span wat die krag elke keer herstel, werk onverpoos en doen hulle werk.

Groot skade is aan die kragstelsel veroorsaak. Foto verskaf

Tiffany Franca (22), ’n inwoner, sê wat dinge sleg maak, is dat die kragonderbrekings nou reeds drie weke aanhou en ’n mens nie weet wanneer dit weer gaan gebeur nie. “Met beurtkrag kon ons darem nog beplan volgens die rooster wat ’n mens ontvang het. Maar nou kan ons nie. Almal hier sit in dieselfde benarde bootjie. Ons verloor toerusting wat nie meer wil werk nie as gevolg van die kragprobleme en moet kos weggooi.”

Sy beaam die plaaslike span wat probeer om die probleem op te los, werk baie hard. Hulle het egter hulp van Eskom nodig. “Dit is moeilik om almal kalm te hou en hoop te gee as ons self nie meer weet of daar werklik hoop is nie.”

Sebata Zondo, Noordwes-woordvoerder van Eskom, het onderneem om kommentaar te lewer op OFM Nuus se navraag.

OFM Nuus/Karen van der Berg cg


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.