On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Vier verdagtes in Virginia-hof vir onwettige wapenbesit en aanval op polisie

───   HEIDRÈ MALGAS 14:11 Wed, 27 Nov 2024

Vier verdagtes in Virginia-hof vir onwettige wapenbesit en aanval op polisie | News Article
Foto: iStock

Een van vier verdagtes wat Donderdag (28/11) in die landdroshof op Virginia sal verskyn, het glo op polisiebeamptes geskiet voordat die mans vir die besit van onwettige vuurwapens in hegtenis geneem is.

“Die polisie het Maandag vinnig gereageer op ’n wenk oor vier gewapende mans wat in ’n silwer sedan na Virginia op pad was,” sê Peter Kareli, Vrystaatse polisiewoordvoerder. Hulle flinke optrede het die inhegtenisnemings en beslaglegging op onwettige vuurwapens moontlik gemaak.

Beamptes het Queensway gepatrolleer totdat hulle die verdagte voertuig opgemerk het. ’n Kort jaagtog het gevolg waartydens ’n verdagte glo skote op die beamptes geskiet het.

Nadat die voertuig tot stilstand gekom het, het drie van die mans te voet gevlug.

‘Oortreding van immigrasiewetgewing word ook vermoed’

Die polisie kon daarin slaag om die skieter aan te keer terwyl hy in ’n hoek vasgekeer was. Die ander verdagtes is kort hierna in hegtenis geneem waar hulle in nabygeleë erwe weggekruip het.

Daar is beslag gelê op twee pistole en ammunisie wat in die voertuig gevind is. Die voertuig is in Mei 2022 in Thabong as gesteel aangemeld. Oortreding van immigrasiewetgewing word ook vermoed.

Volgens BBLAW Attorneys dra die onwettige smokkel van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie nasionaal en plaaslik ruimskoots by tot die hoë misdaadsyfer.

Die Vuurwapenbeheerwet wil onder meer:

  • die verspreiding van onwettig vuurwapens voorkom en uit die samelewing verwyder, die beheer van vuurwapens in wettige besit verbeter en misdaad voorkom waarin vuurwapens gebruik word; en
  • die staat in staat stel om die onwettige besit van vuurwapens uit te roei, die voorsiening, besit, berging en oordrag van die gebruik van vuurwapens beheer en die nalatige en misdadige gebruik van vuurwapens opspoor en straf.

Die wet verbied voorts die besit van ’n vuurwapen en ammunisie sonder die vereiste lisensie, permit, of magtiging daarvan. Almal in besit van onwettige vuurwapens, wat ’n vuurwapen of ammunisie hanteer of vervaardig, oortree die bepalings van hierdie Wet en kan strafregtelik vervolg word.

OFM Nuus mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.