On Now
Weekends 16:00 - 19:00
All Request Sunday Nikki
NEXT: 19:00 - 20:00 Nuut in Afrikaans with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Vrystaatse egpaar maak kontak ná maande se stilswye

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:15 Mon, 25 Nov 2024

Vrystaatse egpaar maak kontak ná maande se stilswye | News Article
JP en Veronica van Graan. Foto verskaf

’n Egpaar van Frankfort in die Oos-Vrystaat, wat vyf maande gelede as vermis aangemeld is, is op pad huis toe nadat hulle onlangs weer kontak met hul familie gemaak het.

JP (43) en Veronica van Graan (35) se geliefdes het die ergste gevrees nadat hulle maande nie van hulle laat hoor het en ook nie bereikbaar was nie.

Veronica se niggie, Monica Kruger, het verlede week aan OFM Nuus gesê die familie het reeds vrede gemaak  met die moontlikheid dat die egpaar dalk nie meer lewe nie.

Veronica het egter ’n paar dae gelede na haar ma, Deline Botes, uitgereik nadat sy nuusberigte oor hul verdwyning gesien het. Sy het Maandag (25/11) aan OFM Nuus vertel dat ’n familielid op pad is om haar en haar man in Kempton Park te kom haal.

Volgens Veronica is sy en haar man gedwing om uit Frankfort te vlug weens die een of ander moeilikheid, maar sy wil nie daaroor uitwei nie. “Alles het so vinnig gebeur, en daar was nie tyd om iemand in te lig nie. Op daardie stadium het ons nie eens geweet waarheen ons op pad was nie.”

'n Onlangse foto van die egpaar. Foto verskaf

Die paartjie het aanvanklik na Kempton Park gevlug voordat JP werk as motorwag in Gqeberha gekry het. “Ons het twee maande in haglike en gevaarlike omstandighede op straat gewoon. In dié tyd is JP twee keer met ’n mes gesteek, en as gevolg daarvan kon hy nie verder werk nie.”

Sy vertel hulle het oorleef deur kos te bedel. Ná twee maande het hulle besluit om die Baai te verlaat en na Kempton Park terug te keer. In dié Oos-Randse stad het hulle in ’n tent gewoon op die erf van ’n vrou wat skuiling bied aan mense in nood.

Volgens Veronica gaan dit nie goed met JP nie; hy het dringend mediese hulp nodig. Sy wil hom kliniek toe neem sodra hulle terug op Frankfort is.

‘Sy lyk uitgeteer en verwaarloos’

Kruger sê sy was geskok toe sy ’n onlangse foto van haar niggie sien. “Sy lyk nie goed nie. Sy lyk uitgeteer en verwaarloos.”

Sy het voorheen kommer uitgespreek dat Veronica nie haar ongeskiktheidspensioen afgehaal het in die vyf maande wat hulle vermis was nie, maar Veronica het bevestig dat sy wel het.

Ondanks gerugte oor “wit poeier” in die egpaar se huis nadat hulle gevlug het, sê Veronica die “problem” waarvan hulle gevlug het, is opgelos. Hulle voel nou veilig om huis toe te kom.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.