On Now
Weekdays 05:00 - 06:00
The Agri Hour Gerben
NEXT: 06:00 - 09:00 The Good Morning Breakfast with Shandor, Margaret, John and Nadine
Listen Live Streams

Central SA

Hartswater-polisie wil drenkeling uitken nadat sy in kanaal sterf

───   ZENANDE MPAME 11:53 Fri, 22 Nov 2024

Hartswater-polisie wil drenkeling uitken nadat sy in kanaal sterf | News Article
Hartswater-polisie wil drenkeling in kanaal uitken. Foto:phokwane.gov.za

Die polisie op Hartswater vra inwoners om die liggaam van ’n vrou te help uitken nadat sy uit ’n kanaal gehaal is.

Snikhete weer in die Noord-Kaap dra by tot ’n toename in verdrinkings; daarom moedig die polisie mense aan om veiligheid voor oë te hou wanneer hulle swem en om uit die kanaal te bly.

Iemand het Dinsdag (19/11) in ’n kanaal afgekom op die liggaam van die tot nog toe onbekende drenkeling. ’n Nadoodse ondersoek word uitgevoer om vas te stel hoe sy gesterf het, sê Molefi Shemane, Noord-Kaapse polisiewoordvoerder.

Sy is vermoedelik tussen 35 en 45 jaar oud, is sterk gebou en het ’n ligte velkleur. Sy het ’n swart T-hemp en ’n groen trui gedra.


Enigeen met inligting kan Sers Tebogo Markus by 082 460 6228 bel of Stop Misdaad by 08600 10111, sê Shemane. Alle inligting sal vertroulik hanteer word.

Die Noord-Kaapse DA moedig die departement van water en sanitasie, sowel as die plaaslike en provinsiale regering aan om kanaalveiligheid op Hartswater uit ’n maatskaplike oogpunt te benader. 

So ’n benadering behels gemeenskapsbetrokkenheid wanneer inwoners betrek word by waterbeplanning- en veiligheid. Kinders word ook geleer van die gevare van water en bewus gemaak van verskillende waterliggame soos damme, mere en riviere.

“Die DA is vas oortuig meer moet gedoen word om die gemeenskap teen nog lewensverlies te beskerm,” sê Lisa Schickerling, LP van die Noord-Kaap.

Moenie swem wanneer jy onder die invloed van enige middel is nie. Infografika verskaf

Polisie gee dié wenke vir waterveiligheid:

• Moenie in waterkanale of riviere spring om ’n vriend of geliefde te red nie.

• Moenie swem wanneer jy onder die invloed van enige middel, hetsy dwelms of drank, is nie.

• Gee altyd gehoor aan waarskuwingstekens of vlae wat aandui dis gevaarlik om op ’n sekere plek te swem.

• Bly uit damme, watergate en waterkanale.

• Moenie swem tydens storms of wanneer die wind sterk waai nie.

‘Maatreëls moet vinnig ingestel word om ander tragedies te voorkom’

DFA het verlede maand berig oor ’n seun (13) van Bonita Park op Hartswater wat in die Vaalharts-hoofkanaal verdrink het.

Sello Seitlholo, adjunkminister van water en sanitasie, het ná dié voorval die gesin besoek en belowe om opvoeding oor kanaalveiligheid op te skerp.

“Gegewe die huidige somertemperature en die feit dat die aantrekkingskrag van water net sterker gaan wees hierdie feestyd, hoop ons dat maatreëls vinnig ingestel sal word om ander tragedies op Hartswater te voorkom,” sê Schickerling.

OFM News/Zenande Mpame cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.